{ARGIEF}

WAT SÊ DIE BYBEL OOR KWALITEIT TYD?

Jammer dat die ouerleiding blog vir ‘n tydjie gestol het, maar hier is ons weer aan die gang!

Ons is besig om te gesels oor of POSPAR met die Bybel versoenbaar is. Soos ons reeds gesê het: “Dit is”. Die Bybel leer ons onder andere om kwaliteit tyd aan kinders te gee.

POSPAR leer ouers om te verstaan hoe belangrik kwaliteit tyd is – dat kwaliteit tyd ‘n kind se geboortereg is. 

Kwaliteit tyd is tyd wat ‘n ouer afsonder om alleen met ‘n kind deur te bring. Hy of sy gee volle aandag aan die  kind, raak aan die kind en is emosioneel betrokke. Die Here Jesus stel vir ons die voorbeeld. Ons lees is Markus 10:13: “Die mense het kindertjies na Jesus gebring dat Hy hulle moes aanraak. Sy dissipels het met die mense daaroor geraas. Maar toe Jesus dit sien was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle……….Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën.” Soos die dissipels is ons ook geneig om vir kinders te sê: “Gaan speel, kan julle nie sien ons is met belangrike sake besig nie?” Die vorige geslag het gewoonlik bygevoeg: “Moenie die grootmense se tande staan en tel nie.” Die Here Jesus het egter ‘n besige program onderbreek om eers sy volle aandag aan kinders te gee.

Kwaliteit tyd gaan ook oor die tyd wat ons daaraan spandeer om kinders te help om vir God en mense lief te wees. In Deuteronomium 6:6-9 staan: “Hierdie gebooie wat Ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ‘n merk op jou voorkop wees. Skryf dit op jou deurkosyn en op jou stadspoorte.” Dit is duidelik dat God van ouers verwag om nooit op te hou om liefde te leef en aan hulle kinders oor te dra nie.

Ons gesels later weer oor kwaliteit tyd in ons gesinslewe.