{ARGIEF}

Die bekende Hollandse teoloog Bavinck skryf dat hy die inwyding van ‘n nuwe kerk moes bywoon. Die kerk het drie gebrandskilderde vensters waardeur die sonlig van buite kleurryk filter en op die gemeente skyn. Hierdie drie vensters stel die drie groot Christelike deugde voor: geloof, hoop en liefde.

Op die eerste venster is ‘n kruis – dit is die teken van geloof. Op die tweede venster is ‘n anker – die simbool van hoop. En op die derde venster is ‘n hart – die teken van liefde.

Nou vertel Bavinck, hoe die geleentheidsprediker by die inwyding van hierdie nuwe kerk, aangesluit het by hierdie drie groot deugde naamlik geloof, hoop en liefde. Hierdie dominee het vir die gemeentelede vertel dat Paulus eintlik magtige dinge daarmee bedoel. Hy het ook bygevoeg dat die volgorde waarin Paulus daarna verwys, goed is.

Natuurlik eers die geloof in die kruis van Christus. Dit moet alles voorgaan. Die basis van ‘n mens se lewe kan tog nooit anders as die geloof in God wees nie. En net wanneer ‘n mens dít van harte glo, kan jy in hierdie siedende, tierende wêreld bly hoop. Waarop anders kan die mens sy/haar hoop bou? Eers vanuit die geloof kry hoop sy kans.

Daarop volg dat slegs die mens wat hoop en blydskap in die hart dra, werklik kan liefhê. So ‘n persoon voel nie meer so behep met eie lewensgeluk nie, voel nie meer so bedreig en benoud dat hy/sy daarom nie kan liefhê nie. En so is die volgorde heeltemal goed.

Maar, sê die prediker verder, moenie vergeet nie dat wanneer die gemeente in die aand hier met aangeskakelde ligte vergader, die volgorde vir die buitestaander omruil. Vir so ‘n persoon sal die liefde eerste staan, daarna volg die hoop en daarna eers die geloof. Van u geloof sal ‘n buitestaander aanvanklik maar min sien, maar dit sal hulle diep tref as hulle in u midde die seldsame egte liefde aantref. Hulle het miskien al in hul lewe hulself te pletter geloop teen die harde egoïsme en yskoue onverskilligheid wat die lewe van tallose kenmerk. Hulle sal verwonderd staan wanneer hulle by ‘n groep mense uitkom, van wie hulle gou sal opmerk dat hulle nie noodwendig almal eenders is nie, maar mekaar tog werklik liefhet. En straks sal hulle hulself begin afvra hoekom dit so is dat hierdie mense anders is. Wanneer hierdie vreemdelinge die gemeente nader leer ken, sal hulle spoedig tot die ontdekking kom: hierdie mense het mekaar lief omdat hulle hoop in hulle harte koester. Hulle het iets wat hulle bly maak, hulle verwag iets. Hulle laat hulle nie op loop jaag deur onheilsberigte nie. Op hulle tone word daar nie maklik getrap nie. Hulle kan heelwat verdra omdat hulle die hoop op ‘n beter, ander, ryker wêreld in hulle harte koester. Daarna sal hulle hulself begin afvra na die oorsprong van hierdie verwagting en is dit moontlik dat hulle ten lange laas begin verstaan dat u hoop op die hegte grondslag van die geloof gebou is. Daarna, miskien, sal hul oë langsamerhand begin oopgaan vir die grootheid van ons Here Jesus.

Moet nooit vergeet nie, dat die volgorde soos wat u dit sien, geloof-hoop-liefde, korrek is, maar dat u, sodra dit om die taak van die kerk in die wêreld gaan, die volgorde presies moet omkeer. Vir die buitestaander wat saans langs u kerkgebou verbystap, vir hom is die volgorde liefde-hoop-geloof. (Johan Rossouw, 2003-2004. Preekstudies met liturgiese voorstelle. )

Die Heilige Gees bepaal hierdie liefde. Om die waarheid te sê, Hý ís die band van liefde tussen die Vader en die Seun. Die gawe van liefde tussen God en ons, en die band én gawe van liefde tussen ons onderling.

En hierdie Gees vorm ‘n kerk in die wêreld. Hy roep, leer, verlos, versoen, skep, lei … Die Bybel bevestig dit op talle plekke.

Dis hierdie Gees van liefde wat gemeenskap skep. Onderlinge aanvaarding. Behoort-aan-mekaar. Omgee-vir-mekaar. Ware dissipels. Egte volgelinge. Christene. Nuutgemaak. Verander.

Teen álle verwagtinge in. Maar dís liefde. Die liefde waarna bogenoemde prediker verwys. Dit skep ruimte. ‘n Stuk menslikheid. Heelheid. Volheid. Vervulling. Tuiskoms. Herstel. Genesing. Dis tasbaar. Sigbaar. Ja, dis ánders, dis nuut en vreemd aan hierdie wêreld. (Smit, D. 2001. Wat Here is en lewend maak.)

Kom ons bid elke dag dat die Here ons liefde vir mekaar en vir alle mense sal laat groei – oorvloedig sal maak. Want waar ons dít regkry, raak ons ‘n vars sprietjie in die barheid, droogte en doodsheid van die wêreld, maar ook van die kerk … Dis hierdie liefde wat die buitestaander sal nader trek en mettertyd tot hoop sal lei. En uiteindelik tot geloof, daardie geloof wat deur die werking van die Gees nuwe lewe skenk!

Chris

Ons gaan een keer per maand “iets ekstra” op hierdie blog beskikbaar stel. Waarskynlik die eerste Maandag van elke maand. Hoop dit kan help! Hierdie maand se fokus gaan oor “Daardie seldsame, egte liefde”. Volgende maand (03/11) beplan ons ‘n begrafnispreek. As jy idees het rakende sake wat jou en ander dominees/geestelike leiers in die bediening sou kon help, laat weet asseblief.