{ARGIEF}

 

Hierdie liefde manifesteer op baie maniere. Daar is die romantiese liefde, waar die hart ‘n vlam is en soos Fanie Olivier skryf: “aangejaag kom met die wind, terwyl jy met ‘n blaar en ‘n duifie en ‘n karba vol wyn in jou binnesak, sing vir jou klein prinses”.

Met die tyd word die liefde ouer, meer gebrei, minder sentimenteel en meer toegewyd – en groei dit tot ‘n dieper kameraadskap – een waarin die hart, soos Breyten Breytenbach skryf: “’n donker bloeisel word vir die ander …”.

Hierdie kameraadskap, skryf Carel Anthonissen, is nie altyd maklik nie. Dis ‘n reis, wat by wyse van spreke, loop langs bruisende fonteine vol lewensblyheid, moed, vreugdevolle nabyheid en vervulling, maar dikwels ook deur ‘n landskap van droë woestyne vol eensaamheid, frustrasie, pynlike misverstand, teleurstelling en selfs die dood.

Maar dis ‘n kameraadskap waarin hopelik, soos Ronnie Belcher so mooi dig: “die onrus van die jeug mettertyd sal verdwyn en daar uiteindelik ‘n diep rivier magtig en stil deur die kaal woestyn sal kronkel”.

Die huwelik vra ‘n bepaalde toewyding – om net die beste vir die ander te soek; om te midde van misverstand en spanning, steeds oop, eerlik en lojaal teenoor mekaar te wees. Dit vra die moed om mekaar se swakhede te vergewe, en wanneer die ander presteer, dit te waardeer en te vier.

Maar, soos Carel dit so mooi stel, die ware kuns van ‘n getroude lewe spruit ten diepste uit ‘n ryk innerlike lewe – een waarin jy, dikwels in stilte en toewyding aan ‘n groter “bestemming” as jou eie ambisie, jouself leer ken en aanvaar, en om dan van dááruit die ander se lewe te verryk en te bou.

Ek is bly vir prins William en Kate, en soveel ander, wat mekaar gevind het en bymekaar ingehaak het. Michael Bublé sing in ‘n liedjie van hom “Hold on” van die “lucky ones” onder ons wat tot ver ander kant romantiese verliefdheid gevorder het, tot by ‘n diep verhouding van innige nabyheid. Ons wens is dat hierdie adellike bruidspaar lewenslank in hierdie verhouding sal leef, groei en liefhê!