{ARGIEF}

Ek lees dat mnr Kenny Kunene se ZAR klub in Groenpunt se Cape Royal Hotel vanaand (Maandag 14/02) open. Mense wat dié klub besoek, vra skynbaar nie die prys van ‘n drankie nie. Dis sosiale vlinders wat nie bang is om geld te spandeer nie, sê mnr Kunene. Een van die duurste sopies is ‘n Glenfiddich-50-jaar-enkelmout-Skotse whiskey wat jou R15 000 uit die sak sal jaag.

Liewe hemel! Waarheen is ons op pad? Ons sit in ‘n land waarvan mense wel na 1994 polities bevry is, maar waarvan die meeste mense bitter min ekonomiese vryheid ervaar. 45% van ons land se mense leef in ondraaglike armoede, terwyl die opkomende elite (en ook ander) al meer in ‘n spiraal van hebsug en magsug vasgevang raak en hul skuldig maak aan kru spandabelrigheid!

Die groot ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika het ‘n kruitvat geword. Dit verhoog die frustrasie- en aggressievlakke van mense. Mense se toleransie raak al minder.

Karl Marx het, interessantheidshalwe, hieroor gesê dat ‘n huis of klein of groot kan wees. Solank die omliggende huise klein is, is mense tevrede met húl klein woonplek. Maar rig ‘n paleis (ZAR-klub?) langs so ‘n huisie op en jou woonplek word ‘n armsalige pondok!

Natuurlik mag ‘n mens jouself geniet, veral as jy materieël geseënd is, maar ons behoort in Suid-Afrika meer armoede-sensitief te wees. Ons sal móét eenvoudiger leef.

Is die rykste mens nie juis dié een wie se plesier nié met geld gekoop hoef te word nie?