{ARGIEF}

Met een groep, wat al ‘n paar jaar in die gevangenis is en deel van ‘n rehabilitasie-program vorm, praat ek oor misdaad in ons land en die geweld wat daarmee gepaardgaan. Hoe sekere vorme van verbale en fisieke geweld mense verneder. Terwyl ons daaroor praat verwys ek na apartheid. Hoe dit mense nie geag het nie en van ons mense gemaak het wat ons eintlik nie wou/wil wees nie. 

Toe sê een van die gevangenes: Hierdie patrone van minagting, vernedering en geweld gaan natuurlik vandag voort – aan beide kante (swart en wit) van die spektrum. En hy besef nóú hoe vernederende geweld tot kru rassisme (kan) lei!

Dít het my diep geraak. Op pad terug Kaapstad toe lees ek die volgende in Leon Wessels se boek Vereeniging: Die onvoltooide vrede. “In Why Race Matters in South Africa, beskryf Michael MacDonald ‘n toneeltjie in 1960 in Alexandra, Johannesburg: Mark Mathabane, wat later bekendheid sou verwerf met sy boek Kaffir Boy, vertel hoe sy pa voor sy oë verouder het toe die polisie hom nakend onder ‘n bed in ‘n wit gebied uitgehaal het tydens ‘n pasboekinspeksie. Toe die polisieman hom uitvra oor sy pasboek het dié sy pa se private dele met ‘n polisieknuppel liggies gestamp-stamp, tot groot vermaak van die ander polisiemanne in die vertrek. Sy ma is vernedering gespaar, want hulle het haar nie in die klein klerekassie, waar sy in haar onderklere weggekruip het, gesoek nie.”

Hoe sou ék gevoel het as dit my pa was wat aan sulke vernedering blootgestel was, het ek sit en wonder? “Weet die mense, ons regeerders watse skade misdadigers aan rasseverhoudings doen wanneer hulle hul slagoffers tydens hul misdade verneder en vermoor” hoor ek steeds een van die gevangenes, saam met Leon Wessels, vra?