{ARGIEF}

Hy skryf dat ‘n dominee se vrou hom op ‘n dag supermark toe gestuur het. Dit was sy beurt om ‘n slag inkopies te doen. Terug by die parkeerplek, loop hy in ‘n boemelaar wat bedel, vas. Die dominee gee vir hom ‘n brood, maar die boemelaar bly staan – hy wag vir ‘n geldjie. Die dominee haal sy beursie uit en gee vir hom ‘n paar Rand. Die boemelaar is baie dankbaar. Terwyl hy wegstap, sê die dominee dat hy vir hom wonderlike raad het: “Never despair. Remember, never despair!”

Glimlaggend stap die boemelaar verder. Twee dae later, omdat hy geweet het dit is die dominee wat hom sulke goeie raad gegee het, klop hy aan die pastoriedeur. Hy wil die dominee spreek. Toe die dominee verskyn, lag hierdie boemelaar van oor tot oor. Uit sy sak haal hy ‘n hele rol note. Sommer ‘n klomp geld.

Die dominee vra: “Nou wat beteken dit?” Dit beteken, sê hy, dat Never Despair die vierde resies op Gosforth Park gewen het. Dominee, ek het net vir jou dankie kom sê vir die goeie raad. Jy ken ‘n wenperd!

Natuurlik het die dominee ‘n heeltemal ander “never despair” in gedagte gehad, maar dalk het jy dit nou reeds gehoor. “Hoop is ‘n wenperd!”

In Rom 15:13 staan daar: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” (Terloops, bitterheid vernietig hoop.)

Hoe nodig het ons nie hierdie hoop wat God gee nie? Daar is niks méér waardevol wat die kerk vir die wêreld kan gee as juis hierdie hoop nie, want dít plaas mense op nuwe roetes!