{ARGIEF}

* * * *

Daar word in 1 Kor 13 twee besondere – en merkwaardige! – dinge oor liefde gesê. Die eerste is dat die belangrikste barometer van my verhouding met God juis liefde is! Dit beteken dat die een ding waarin die duidelikste gesien moet kan word dat ek ‘n Christen is, liefde is. Meer as in enige iets anders [vgl Paulus se vergelykings in vers 1-3!] is dit die een ding waarin gesien kan word dat iemand ‘n “geestelike mens” is.

Ons dink dikwels nie so nie!  Ons beskrywe en definieer dikwels Christenskap in terme van ander dinge: sekere godsdienstige handelinge, spesifieke geestelike gawes, ens. Daarom is dit belangrik dat ‘n mens 1 Kor 13 in al sy skerpheid hoor. Hoe belangrik die geloofsgewoontes van die erediens en gebed en Bybel lees ook al is [en dit is baie belangrik! ] – as dit nie daartoe lei dat ek al meer iemand word wie se lewe gekenmerk word deur liefde nie, mis dit die doel. Hoe belangrik sommige geestelike gawes ook al is – as dit nie daartoe lei dat my lewe al meer ‘n lewe van geleefde liefde word nie, is dit waardeloos!

Kort voor sy kruisiging is juis dit die tema van een van Jesus se laaste “demonstrasie-lesse” aan die dissipels. In Joh 13: 35,36 sê Hy in soveel woorde dat die een duidelike merkteken van ‘n Christen se lewe liefde moet wees. Hy sê dit nadat Hy eers prakties vir hulle demonstreer het van watter soort liefde Hy praat – deur hulle voete te was!

Dit sluit aan by die tweede merkwaardige perspektief  in 1 Kor 13: hierdie liefde waarvan hier gepraat word, is gedrag, is ‘n sekere manier van leef en optree. ‘n Mens moet dus as jy 1 Kor 13 reg wil hoor, heeltemal loskom van sentimentaliteit. Die liefde waarvan hier gepraat word [as die belangrikste kenmerk van ‘n Christen se lewe] is harde werk! Hierdie liefde is ook baie meer as om net ‘n goeie gesindheid teenoor iemand te hê. Hierdie liefde is konkrete dade van diens en selfverloëning [ vers 4-6 ]. Dit is ‘n bepaalde manier van optree teenoor iemand – omdat jy ‘n Christen is. En daar is niks sentimenteel daaraan nie.

Daarom is dit so ‘n radikale gedeelte – en die toepassing hiervan op die huwelik is voor die hand liggend. Dit beteken dat die belangrikste aspek van huweliksliefde nie emosionele liefde is nie, of romantiese liefde, of erotiese liefde nie. Natuurlik is al drie hierdie fasette van liefde in die huwelik belangrik – en moet dit nooit ophou nie. Maar wat van ‘n huwelik ‘n Christelike huwelik maak, is nie dit nie. Dit is die liefde van 1 Kor 13, die agape-liefde, die liefde wat die Gees van God in ‘n mens se lewe werk en wat maak dat jy op ‘n sekere manier teenoor mekaar in die huwelik optree. Net dit kan die basis van ‘n suksesvolle huwelik wees, net dit gee aan ‘n huwelik duursaamheid, net dit gee aan die ander aspekte van huweliksliefde, die emosionele en die erotiese en die romantiese, permanensie en laat dit verdiep. Dit maak van ‘n huwelik ‘n Christelike huwelik!

Die belangrike vraag is natuurlik nou: waar kry ‘n mens hierdie soort liefde?  En hoe hou ons daarmee vol?  Dit is iets waartoe ek bevry moet word – deur Jesus Christus en die Heilige Gees. Daarom sê Johannes in 1 Joh 4 dat dit liefde is wat ons moet ontvang – van God. Dit is wat voortgaande bekering beteken. Dit is wat voortgaande vervulling met die Heilige Gees beteken: die verlossing van selfhandhawing na selfverloëning [Vgl Ef 5:18-31]

Maar dit beteken dat 1 Kor 13 ‘n opdrag en ‘n belofte is. Want daarvoor het Jesus Christus gesterf en opgestaan en daarvoor is die Heilige Gees uitgestort: om ons mense te maak wat hierdie praktiese doen-liefde deurlopend van God ontvang en na mekaar toe kan leef.  Dit is die uitdagende en hoopvolle noot waarmee ‘n mens as gelowiges jou huwelik kan begin.

Hannes Koornhof