{ARGIEF}

VERANTWOORDING

Die situasie

Mev M., ‘n weduwee en moeder, was ongeveer 63 jaar oud toe sy aan komplikasies wat na ‘n operasie ingetree het, gesterf het. Die pastor was dit dus te wagte dat daar in die pastorale situasie hewige rousmart na vore sou kom, gesien die onverwagsheid van die sterfte en die relatiewe jong ouderdom van die oorledene. Al die “gewone” vrae het in die voorafgesprekke opgeduik: Hoekom? Hoekom nou? Hoekom sý? Hoekom óns?

Die Woord

Psalm 4 is gekies omdat hier – soos trouens in die meeste van die Bybelse psalms – sprake is van ‘n geloofsreis: Die skrywer – oftewel digter/bidder/sanger – gee aan sy aangesprokenes ‘n kriptiese geskiedenisles oor sy ondervindinge met die Here in tye van nood en ontsteltenis. Tussendeur spreek hy die Bron van sy troos direk aan, al is dit bloot om Hom daaraan te herinner dat Hy nog altyd ‘n luisterende oor en ‘n wonderwerkende hand gebied het. Só hoor die eerste luisteraars, en die lateres, wát die genadige, troostende gevolg is wanneer die Here “hoor as ek na Hom roep” , “dit weer met ons goed laat gaan”, “(my) laat … veilig woon”.

Dié Woord in dié situasie?

Dit ís so dat die Psalmboek nie ‘n preekbundel is nie; eerder ‘n gebedeboek, of dan ‘n liederebundel. Dit maak dit dus uiters geskik om tydens ‘n begrafnisdiens te lees, as daar van die veronderstelling uitgegaan word dat bedroefdes geen begeerte het om be-preek te word nie, eerder begryp, en dus getroos. Die aangewese modus waarin die prediking dus aangebied behoort te word is dié van solidariteit – ‘n vereenselwiging van die prediker met die bedroefdes. Daar is weinig Skrifgedeeltes wat hulle beter daartoe leen as die Psalms.

Preek

“Ek hou van die Psalms. Dit is vir my goed om te lees dat daar baie lank gelede ook mense was wat gesukkel het met hulle geloof, mense wat gesukkel het met God se doen en late in hulle lewens. Kortom: mense wat getwyfel het wanneer dit met hulle sleg gegaan het, en nie bang was om te vra nie: Hoekom, Here?

“En hierdie hakkelende digters, twyfelende bidders, stamelende sangers, gaan skryf dit toe alles neer. Of: hulle skreeu so hard of sug so aanhoudend dat ander mense dit neergeskryf het. En tot vandag toe lees ons van hierdie geloofsworsteling. In die Bybel, van alle boeke. Ja, die Boek van die geloofskampioene, die helde van die kruis, het hier – reg in die middel – ‘n plek waar ons lees van … mense soos ons. Dít is hoekom ek van die Psalms hou.

“Juis op ‘n dag soos vandag. Hier is dan soveel seer, soveel stukkendheid in dié kerkgebou, veral by julle hier in die voorste banke. Soveel onbegrip en onvrede, ook op die kansel, dat ek my dit nie kan voorstel dat ons nou uit iets anders kan lees as die Bybel se Psalmboek nie. Luister:

(Skriflesing volg)

“Onbesorg gaan lê. Dadelik aan die slaap raak. Die wete dat dit die Here alleen is wat jou veilig laat woon. Só sluit ons Psalm af. Maar … hoe kom ‘n mens dáár? Is ek verkeerd as ek vanoggend reken dat ons nog ‘n bitter ver ent het om te gaan voordat ons sal kan sê: onbesorg; dadelik aan die slaap raak. Of: Dankie, Here, dat dit U is wat my veilig laat woon? Weer: Hoe kom ons daar? En: Sal ons dit kan maak? Vanaand nog? Hoegenaamd? Ooit?

“Dit lyk asof die man wat hier skryf heelwat ondervinding het van die soort swaarkry en seerkry wat ons ook vandag hier byeengebring het. Luister hoe hy sommer reg aan die begin soebat dat die Here hom moet hoor: Antwoord my! Wees my genadig! Hoor my gebed!

“En dan doen hy ‘n baie interessante – eintlik besonder dapper – ding; iets wat ons in baie van die Bybel se psalms sal teëkom: hy sê die Here moet asseblief onthou dat Hy (hierdie Here) al vantevore gehelp het. Here, onthou ons loop al ‘n lang paadjie saam, ons het ‘n geskiedenis met mekaar. U hét mos al gehelp! U hét my al soveel vreugde laat belewe.

“Dan, asof hy nuwe moed gekry het noudat hy dit so pront gesê het, loop hy die kwaadpraters ook sommer trompop. Moenie die Here onderskat nie! waarsku hy hulle. Besef tog Wie Hy is: die Wonderwerkende Verbondsgod. Bring dus julle offers; vertrou op Hom!

“En só, so tipies menslik, praat hy homself kalm. Woed hy hom uit. Raak hy opnuut daarvan oortuig dat die Here wat altyd dáár vir hom was, hom nooit as te nimmer sal vergeet nie. Vind hy oplaas rus in die wete dat die Here-van-altyd steeds die Here-van-vandag is. Nou kan hy maar ophou wonder, kan hy in vrede gaan lê, oorgegee aan die Een wat hom nooit sal los nie, wat hom sal oppas. Rustig in die wete dat hy in die hande is van die Bewaarder van Israel wat nie insluimer of slaap nie. Só is dit nou met hom, hierdie bidder.

“Die vraag bly nou: Help hy ons? Hierdie man wat nou so rustig geword het – kán ons, die onrustiges op hierdie dag, iets by hom leer?

Miskien tog.

“Kyk, daar is die kwessie van die adres. Dit is baie duidelik dat hy nie in die lug in roep nie, hy skreeu nie sommer die niet in nie. Hy roep uit die staanspoor “O God!” Hy weet dus, van die begin af, daar is vir hom ‘n plek waar hy kan gaan aanklop. En dan nie noodwendig ‘n sagte, hoflike kloppie nie, o nee: hy val as’t ware met die deur in die huis.

“En dit is maar reg so. Te meer nog vir mense soos ons: kinders van die Nuwe Testament. Ons ken hierdie God as die Vader van Jesus Christus. Wanneer ons met Hom praat, noem ons Hom: ‘Ons Vader’. Ag, en dit is nie regtig nodig om te skreeu nie (ons mág maar; Hy sal nie skrik nie. ‘n Pa skrik mos nie vir sy kinders nie!). Die feit van die saak is dat die Gees van God, Hy wat by ons bly, selfs ons sugte hoor en dit voor die Vader bring.

“Skreeu dus maar, dit is reg só. Maar as jy vandag hier in die voorste banke sit en net saggies sug – God hoor. En soos die destydse psalmdigter weet ons ook dat ons nie ‘n hele optog hoef aan te pak om by ‘ons Vader’ uit te kom nie. Hy is nie daar vér nie. Om te praat van “die man daarbo” is doodgewoon foutief. Deur sy Gees woon Hy by ons in. Sy adres is dus welbekend.

“Dan kan ons ook maar ‘n verdere les by die digter van Psalm 4 leer: sy troosbaarheid. Hy wil gehelp word. Hy soek ernstig na perspektief op sy omstandighede. Keer op keer herinner hy die mense wat na hom luister, en dus homself, aan die genadige ingryping van God. Luister: toe ek in die nood was; as jy ontsteld raak; as jy vra wié sal dit weer met ons goed laat gaan … is die antwoord keer op keer dieselfde: Daar is ‘n Here. Hy hét mos in die verlede. Hy sal weer.

“Uiteindelik is dít dus hoe hierdie bidder by sy laaste vers uitkom; dít is hoe hy, nou onbesorg, in die bed kruip. Tog heel eenvoudig, nie waar nie? Hy weet by Wie om te gaan huil, en dan eien hy die troos wat na hom toe kom vir homself toe. Eers: Hier is ek, Here, met my trane, my vrese, my ontsteltenis. Dan: Dankie dat U my gehoor en gesien het, en ‘n plan gemaak het. Ek weet dit nou.

“Miskien is dit die vernaamste rede hoekom ek van die Psalms hou: Of die digters/bidders/sangers opkyk na die berge, of diep in hulle eie harte kyk, gil of fluister, roerend weeklaag of saggies sug, uit volle bors sing of bloot hartseer neurie, daar is ‘n God wat hoor. Dit kan ek maar glo.”*

** En as dit – hierdie stokou psalm – vir ons vandag op die pad na vrede help, dink net vir ‘n oomblik watter verdere implikasies dit het vir mense soos ons. Ons wat nou, 2000 jaar na Christus, soveel meer weet as wat die destydse digter kon vermoed. Luister, byvoorbeeld, Nuwe Testamentiese volgelinge van Jesus Christus, vir oulaas na die laaste vers:

Lees weer vers 9

Onbesorg gaan lê. Dadelik aan die slaap raak. Die wete dat dit die Here alleen is wat jou veilig laat woon. O, die fenomenale wete dat daar ‘n Jesus was wat toe nié bly lê het nie. Hy het opgestaan; Hy het waarlik opgestaan! Is dít nie die allertroostendste rede om tot te kom nie? Die Here het opgestaan, en jy sal ook!

* Na my oordeel behoort die preek hier te eindig.

** Sommige predikers sal straks gemakliker voel met ‘n laaste paragraaf, wat só kan lui:

Barend Vos