{ARGIEF}

Dis nogal nie maklik om ‘n predikant in 2009 te wees nie. Minder eufemisties gesê: dis eintlik ‘n bietjie sleg om ‘n dominee te wees in ons dag, of hoe?
  • Daar word soveel uiteenlopende eise aan ons gestel. Ons hardloop so rond en ons aandag spring tussen al die verskillende goed waarmee ‘n predikant besig kan wees. Die magdom administratiewe take, erediensvoorbereiding, aanspraak op leierskap, bestuur van projekte, ensovoorts maak ons mal. Wat is ons taak? Waarvoor is ons geroep? James D. Smart druk dit só uit:

“What is ‘n minister? He is an evangelist. He is a preacher. He is a priest. He is a religious-administrator. He is a social reformer. He is a director of worth-while enterprises for the community. He is a species of amateur psychiatrist. He is an educator. He is an interpreter of life somewhat in the fashion of the poet. He is the voice of the community’s conscience. He is the custodian of the values of democratic civilization. He is a man of superior wisdom and virtue whose task each week is to show men and women how to live more wisely and virtuously. Is it any wonder that young ministers, and some not so young, find themselves dragged in a dozen different directions as they try to fulfill the claims of the ministry?”

  • Daarby voel ons ook nog toenemend oorbodig. Waar vakatures in gemeentes ontstaan, word dit dikwels nie weer gevul nie. Die rede hiervoor sou waarskynlik deur kerkrade as finansieel van aard genoem word, maar menige predikant beleef dit as dat die gemeente eintlik heel goed sonder hulle kan klaarkom.
  • Dit alles bring mee dat ons nie heeltemal seker is oor wat ons taak in die gemeente is nie. Wat is my werk? Waar pas ek as voltydse predikant in in die bediening in die gemeente? Natuurlik irriteer al die grappies oor predikante wat net op Sondae werk, meeste predikante, maar tog sal meeste erken dat hulleself nie altyd presies kan formuleer wat hulle taak eintlik is nie.

Ons het dus ons fokus verloor en daarmee saam ons vrymoedigheid. Daarom preek ons so half verskonend, so sonder enige oortuiging. Ons bediening getuig van ‘n stuk huiwering en selfs onsekerheid. Laat ek dit maar in soveel woorde sê: Ek is oortuig daarvan dat ons as predikante in 2009 te min van die belangrikheid van ons amp dink. Veels te min. Dit terwyl van ons waar is wat Andrew Purves skryf: Pastors are men and women who are called, dedicated, installed, and empowered to announce God’s forgiveness, declare God’s healing, proclaim God’s word, celebrate God’s sacramental presence, call forth and guide the living of the amended life, teach the truth of the Christian faith, and, in ministries of compassion, live in community with the people in their pastoral charge. Outside of their work, the church could not exist. (My beklemtoning)

Dís wie ons is! Mense wat deur God geroep en afgesonder is vir ‘n geweldige belangrike werk. Predikante is eintlik baie belangrik en sonder hulle werk sal die gemeente armer wees. Ons mág van ons amp iets dink, nie op ‘n triomfantalistiese en/of magshonger manier nie. Maar ons moet en mag weet en dit nooit vergeet nie dat God ons geroep het en afgesonder het om die goeie nuus van die Evangelie te bedien!

Dis interessant om in die Nuwe Testament te sien hoeveel keer die woord wat in Afrikaans met “vrymoedigheid” vertaal kan word, gebruik word as kenmerk van mense wat die Evangelie bedien het. Enkele voorbeelde: Handelinge 4: 13, 29 en 31; Handelinge 28: 31; 2 Korintiërs 3: 12; 2 Korintiërs 4: 7; Efesiërs 3: 12; Efesiërs 6: 19; Filippense 1: 20; 1 Tessalonisense 2: 2; Filemon: 8; Hebreërs 3: 6; Hebreërs 10: 35; Hebreërs 13: 6.

Vrymoedigheid is iets anders as voor-op-die-wa-wees. Dis anders as om in eie oë belangrik te wees, anders as om boelierig met mense om te gaan. Dit het wel alles te doen met ‘n bewus wees van Hom wat my geroep het en in Wie se Naam ek optree. My vrymoedigheid in die bediening is in die nederige dienskneggestalte van die gekruisigde en opgestane Here Jesus gesetel. Van Hom kan ek vertel en na Hom heenwys sonder ‘n tikkie onsekerheid of skaamte.

Wie hierdie vrymoedigheid in Hom ontdek, vind nuwe lus en vreugde in die bediening. Dit kan dan selfs lekker wees om ‘n predikant te wees, selfs in 2009!

Michiel Strauss

Aangehaalde Werke

The Rebirth of Ministry. A Study of the Biblical Character of the Church’s Ministry. James D. Smart; The Westminster Press, Philadelphia.
Pastoral Theology in the Classical Tradition. Andrew Purves; Westminster John Knox Press, Louisville 2001.