{ARGIEF}

Honde is as onrein beskou. Die heidene is gesien as rondloper-honde wat probeer het om kinders se brood te steel. En nou stap Jesus weg … Hy het gereken die gesprek is afgehandel. En dan antwoord sy Hom: “Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.” Sy herinner Jesus eintlik daaraan dat daar in die gewone huishouding ook honde is, en honde moet ook eet. Al is dit net krummels.

Sy doen hier ‘n ontsettend belangrike ding. Sy integreer hiermee die honde, die heidene, die Kanaäniete in die huishouding van God! En nou val alle grense weg. Dinge word in ‘n nuwe lig gesien. En, ek dink maar so, vir die eerste keer kyk Jesus haar diep in die oë en noem haar volgens Mat 15:28 (NAV) “Mevrou”. Die titel van respek.

Hiermee gaan ‘n nuwe wêreld oop. Opinies verander. ‘n Nuwe gemeenskap word gebore, een wat niks met Jood of heiden, man of vrou, ons en hulle te doen het nie. Hierdie nuwe gemeenskap het wel alles met geloof te doen – geloof in Jesus Christus! En in hierdie gemeenskap is daar nie skape en honde nie, nie krummels nie, maar almal sit saam aan een tafel – God se tafel.

Daar is dinge wat moet verander – ook in ons mooi land. Ons weet wat dit is. Laat ons soos hierdie vrou, en soveel ander, die kuns van “ordentlike protes” aanleer en beoefen. As jy seerkry of te na gekom word, “skreeu” dit uit!