{ARGIEF}

Politici bly maar politici! Iemand herinner my vroeër vandag weer aan wat ‘n bekende NP leier destyds in ‘n verkiesingsveldtog gedoen het. Hy was bekend daarvoor dat hy mense kon opsweep. Op ‘n stadium, toe hy lekker driftig was, vra hy: “Wie het vir Jesus gekruisig?” En toe skreeu die skare: “Die Jode!”. En toe vra hy: En wie is Tony Leon, leier van die DP?” “’n Jood!” skree die skare. “Nou hoekom sal julle vir hom stem?” wou hy weet.

Politici het maar die geneigdheid om godsdiens en politiek te vermeng. Ons het dit ook in die jongste Amerikaanse verkiesing, wel op ‘n ander vlak as wat mnr Zuma dit gedoen het, by Sarah Palin gesien – toe sy gesê het hoe sy kritiek ignoreer danksy haar Christelike geloof. Hoe sy geloof en stiltetyd gemaklik in ‘n onderhoud invleg sodat mense haar kan glo wanneer sy sê sy is ‘n Christen en by sekere “waarhede” staan. ‘n Soort veramerikaniseerde Christendom wat Republikeinse beleid en Bybelse “opdragte” – op punte gegrond op ‘n onakkurate verstaan van die Skrif – eintlik gelykstel!

Ek dink dis ‘n effe moeë haas wat mnr Zuma uit sy voorverkiesingsveldtog-hoed getrek het. Vir my het hierdie haas nie so energiek/vurig uitgespring soos vir ander nie!

Ek sou wel egter wou sien dat politici versigtiger verkiesingstaal gebruik sodat onder andere die godsdienstige verdraagsaamheid in hierdie land, nie onnodig versteur word nie.

Ons leef immers in ‘n demokrasie waar kerk en staat geskei is. Natuurlik moet politici toegelaat word om vanuit hul geloofsoortuigings op te tree, maar ek sou verkies as hulle nie van hul verhoë preekstoele maak nie!

Mag ons elkeen (élke rolspeler!) deur ons leefwyse stukkies hemel aftrek aarde toe! Maar ai, hoe dikwels maak ons nie ‘n hel daarvan nie!