{ARGIEF}

21 Mei: 1985: Kapt Wynand du Toit word gevange geneem (vir 837 dae) en 2 ander soldate word gedood. Vermoedelik het hierdie operasie ten doel gehad om die bestaan van ‘n groot ANC en Swapo basis te bevestig. Volgens Angolese bronne was die hoof oogmerk van hierdie operasie om die Cabinda olie raffinadery op te blaas en sodoende die Angolese ekonomie te knou.

22 Mei 1987: Die hoof van MK in Natal, Theophilus Dlodlo en Nomsa Msomi word in Mbabane, Swaziland in ‘n hinderlaag doodgeskiet.

23 Mei 1983: As weerwraak op die motorbom van 20 Mei daardie jaar voor die Hoofkwartier van die SA Weermag, word ANC basisse in Maputo in opdrag van die apartheidsregering gebombardeer. Dit het die destabilisering van buurlande ‘n hupstoot gegee.

24 Mei 1976: Soweto leerlinge weier om na die Orlando Diepkloof skool terug te keer soos beveel. Hulle wou nie langer onderrig in Afrikaans ontvang nie. Hierdie boikot het later ook na ander skole uitgebrei.

25 Mei 1976: René de Villiers, ‘n lid van die parlement vir Parktown, wys vir dr Andries Treurnicht, Adjunk-minister van Bantoe onderwys daarop dat hierdie optrede van leerlinge tot ‘n plofbare situasie kan lei. Hy het egter die versekering gegee daar was geen rede tot kommer nie. Ons weet wat het op 16 Junie daardie jaar plaasgevind!

26 Mei 1948: Die Herenigde Nasionale Party neem die regering by Jan Smuts se Verenigde Party oor. DF Malan word Eerste Minister op die ouderdom van 74. Die segregasie beleid met sy gevolge skop in!

Ons het regtig ver gevorder in terme van normalisering sedert die tagtigerjare … alhoewel daar brooshede in ons demokrasie is. Dit help egter nie ons raak moedeloos hieroor nie. Die meeste van ons is immers met ons wese aan Afrika verbind. Die regering kan baie doen, maar ons moet help. Kom ons raak elkeen betrokke in die genesing van ons onderskeie kontekste, terwyl ons die regering met valkoë dophou en waar nodig, tot verantwoording roep.