{ARGIEF}

Gerrit Brand skryf op sy blog DinkNet interessant oor Bono, Vryheidsliedere en die Wit Wolf

Toe die “Wit Wolf” Barend Strydom in 1988 op Strijdomplein in Pretoria wild en wakker swart mense doodgeskied het, was A.P. Treurnicht, toe leier van die regse Konserwatiewe Party, se reaksie dat, hoewel ’n mens natuurlik nie Strydom se daad kan goedkeur nie, dit tog “verstaanbaar” is dat ’n jong Boerseun so gefrustreer kan voel deur die NP-regering se hervormings dat hy iets onbesonne aanvang …

Hopelik sal my lesers, of ten minste darem die meerderheid van hulle, met my saamstem dat Treurnicht se reaksie uiters onvanpas was. Soms moet ’n mens nie “maar” sê nie. Die Strydom-massamoord was so ’n oomblik. As leier van die grootste opposisieparty van daardie tyd, en dus iemand met ’n mate van invloed in regse kringe, moes Treurnicht hom ondubbelsinnig teen Strydom se misdaad en teen enige soortgelyke optredes uitgespreek het. Daarmee sou hy selfs kon wys dat, soos hy dikwels aangevoer het (onder meer in sy boek Credo van ’n Afrikaner), die Verwoerdiaanse apartheidsideaal nie op rassevooroordeel en -haat berus nie, maar op kultuurgroepe se reg op selfbeskikking. (Hy kon dit egter nie bewys nie omdat dit nie so was nie. “Hulle smaak so lekker, want hulle is so lekker,” het Farmer Brown destyds in die hoenderadvertensie gesê. Hier sou geld: hulle klink so rassisties, want hulle is so rassisties.)

As Bono se omstrede “vryheidsliedere”-uitspraak van nou die dag my aan Treurnicht se destydse reaksie herinner, is dit nie omdat ek die twee op dieselfde vlak plaas nie. In die een geval gaan dit oor ’n lied vol haatspraak (“Skiet die Boer …”), in die ander oor daadwerklike massamoord (Strydom) – eersgenoemde is erg, maar laasgenoemde baie, baie erger. Ek wil Bono dus nie oor dieselfde kam as Treurnicht skeer nie. Trouens, ek het ook niks persoonliks teen Treurnicht nie. Hy was maar ’n mens soos die res van ons, en het dus foute gemaak. Mag hy in vrede rus. Soos Kurt Vonnegut sou sê: “He never asked to be born in the first place.”

So wat probeer ek dan sê? Wel, dat ’n sekere soort logika in sowel Treurnicht se uitspraak van toe en Bono s’n van die ander dag herkenbaar is.

Laai die hele artikel hier af