{ARGIEF}

Dit het my lank geneem om by prof Danie uit te kom. Miskien tel twee dekades se siekebesoek in ‘n gemeente meer teen ‘n mens as wat jy dink. Ek sukkel, noudat dit nie meer van my “verwag” word nie, om by siek mense uit te kom!

Die ontmoeting was ontstellend – om iemand met soveel lewensenergie, so sterk op sy dag, só weerloos te sien sit. Iemand met so ‘n helder stem so moeisaam te hoor fluister. Ek moes ‘n paar maal veg teen die trane.  

Maar ek moes gaan groet. Dankie sê. Sê, ek en baie ander is lief vir hom en ons bid vir hom. Ek moes dit lank van te vore, toe hy nog sterker was, gedoen het.

Ek wou sommer net dankie sê vir die besondere manier waarop hy sy lewenshuis gebou het. Met soveel oorgawe, trou, toewyding, geloofwaardigheid, integriteit, opregtheid en humor. Dat sy lewe in die teken van Ps 127 gestaan het: As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou tevergeefs.

Dit was vir my interessant hoe die Here oor jare heen deur hom geskep het – ook in my lewe.
Ek wou dankie sê dat hy nooit té beïndruk met die wêreld geraak het en deur sy eie belange meegesleur is nie, maar op God gefokus gebly het. Dat hy nooit sy suksesse vir homself geneem het nie.

In hierdie mooi dorp Stellenbosch, met sy pragtige berge, sy diep grond en baie bome, sy vars lug en kleurryke mense – en natuurlik oor verre grense heen – sal die ruim huis van herinnering wat prof Danie agterlaat, vir nog lank gevul en uitgebou word.

Van hier het hy hom weggegee vir die teologie en kerk. ‘n Besondere loopbaan wat hy in nederigheid aan God gewy het. ‘n Persoon wat die vertroue van vele mense geniet het. ‘n Getroue vriend, van veral soveel jongmense. ‘n Boom wat sy vrugte op sy tyd gegee het. Ek en vele ander was bevoorreg om teologies-eties deur hom “op die pad gesit te word”.  Aan God die eer!

Chris Jones
2010-04-07