{ARGIEF}

Ten spyte van hierdie waarskuwing, het hy, so wil dit lyk, op uitspattige wyse honderde duisend Rand op eersteklas vlugkaartjies, luukse hotel-verblyf, ens. spandeer sedert hy in September 2008 in die kabinet aangestel is.

Dink sulke persone dan hoegenaamd nie meer aan sovele wat in uitsiglose armoede leef – van wie baie van hulle “gister” nog deel was – as hulle geld so verkwis nie? Kan ‘n mens se sinne só afstomp?

Is dit waar dat mag stelselmatig alle menslikheid verplaas?

Nico Smith skryf in sy boek, Die dood van die God van my vaders, hoe hy in Mamelodi by viervertrek huisies gekom het waarin tot 28 mense bly. Party slaap op die tafel, ander onder die tafel, party in die gangetjie, ander in die toilet. Iemand vertel hoe hy onlangs tot 22 mense in ‘n shack aangetref het. 

Shiceka en sy personeel het na bewering R640 000 in een jaar by Kaapstad se “One & Only” hotel spandeer, waarvan R280 000 op hom alleen! Hy het ‘n verdere R55 793 spandeer (vir een nag se verblyf in hierdie hotel) vir mnr Zuma se “state of the nation” toespraak, omdat al die ander hotelle (wat ek ook verstaan!) vol bespreek was. Hy het ‘n sangoma wat sy “vaderfiguur” is saamgeneem omdat die “ministerial handbook” dit toelaat! Volgens die Sunday Times het hy sy departement probeer oortuig om vir ‘n 4 nag verblyf van R357 120 in die Lesotho Sun (Maseru) vir hom, sy ma en lyfwag in te staan. 

Moet ons nie, veral in en deur die kerk, verder gaan as om net oor rentmeesterskap in verband met ons geld te praat nie? Moet ons nie ook in hierdie land aan ‘n rentmeesterskap ten opsigte van mág begin dink nie? Sodat mense ontdek dat net hulle wat beheer oor hulself het, werklik magtig is …