{ARGIEF}

Oudpresident Nelson Mandela is 92 jaar oud – op pad na 93! Hy is broos. Hy het só baie van homself gegee. Derduisende mense stuur boodskappe van beterskap. Hy is gewild en geliefd – wêreldwyd. Maar hy gaan nie vir altyd by ons wees nie!

Van die mooiste kenmerke van Suid-Afrikaners, hoor ek iemand sê, is dat hulle soveel probleme te bowe kan kom. Ons het die vermoë, “om met ons rug teen die muur te staan en dan nog steeds te lees wat op die muur agter ons geskryf staan.” Ons staan soms op die afgrond, maar dan slaag ons daarin om te oorleef.

Dít kan ‘n mens toeskryf aan uitstekende en visionêre leierskap op “vital” belangrike oomblikke. Ek dink hier aan oudpresidente De Klerk en Mandela wat beide besef het hoe noodsaaklik onderhandeling vir almal in Suid-Afrika was en steeds is. En hoe dit ons waarskynlik van ‘n lang, bloedige oorlog gered het.

Toekomskundige Pierre Wack het op ‘n stadium gesê dat SA gaan staan of val by drie dinge. Die politieke oorgang, die ekonomie, en sosiale kapitaal. Hy het regmerkies agter die politieke oorgang asook die ekonomie (ek wonder egter oor hierdie een!) geplaas. Maar ‘n groot vraagteken agter sosiale kapitaal. Ons gaan mnr Mandela onthou vir die politieke oorgang in ons land, mnr Mbeki vir sy ekonomiese “beleid”. En sosiale kapitaal? Wel, mnr Zuma het die potensiaal, maar net die tyd sal leer of ons hom dáárvoor sal onthou …