{ARGIEF}

Op die internet word sentrale waarhede uit hierdie fliek vir die sakewêreld uitgelig. Ek het egter tydens die fliek aan Henri Nouwen gedink wat verwys na dominees wat dikwels met húl eie wonde sit. Hulle word geroep om “wounded healers” te wees, wat nie net na hul eie wonde moet omsien nie, maar tegelykertyd ook gereed moet wees om die wonde van ander gesond te maak.

Ek het net weer besef hoe noodsaaklik die gebrokenheid van die leier is, want só word mense wat deur sulke leiers bedien word, die beste gehelp om húl gebrokenheid raak te sien en daaroor eerlik te wees. Só bring sulke mense deur húl wonde vir ander genesing. Wanneer ons óns gebrokenheid en wonde erken, ontdek ons ook die genade van God vir gebroke mense.

Menslike potensiaal, prestasie en posisie word vandag verhef tot alles! Die wonderwerk lê skynbaar in óns. Maar God bou nie op menslike vermoëns en mag nie. Hiervan vertel die Bybel ons tog. Hy werk juis kragtig ten spyte daarvan.

Nouwen skryf verder dat hy tot die ontdekking gekom het dat die pad van die evangelie nié is om “opgang te maak” nie. Dít het ongelukkig een van die belangrikste lewenswaardes om ons geword. Dit gaan nié om watter “bydrae” ék kan maak nie. Op grond van Fil 2:5-11 moet die styl van die kerk ‘n “downward mobility” wees. Jesus kon aan die kruis die hulp van sy Vader ingeroep het om Hom af te haal, maar Hy besluit om die pad van die kruis te stap. God se manier om liefde sigbaar te maak, is nie ons manier nie.

Hoe meer jy jou vuis van eie prestasie, ambisie en mag in die lug druk, hoe duideliker klingel die kettings wat jou gevange hou. ‘n Mens swig ónder mag, maar buig vóór gesag. Daarom buig ons as gelowiges vóór God! Alhoewel God die Skepper van die heelal is – en dis die verbysterende van Hom – staan Hy magteloos voor ‘n mens wat weier om op sy uitnodiging te reageer. Hy stel Homself dus magteloos voor menslike mag. Dís immers hoe sy Seun aan die kruis beland het! Gesag is nie iets soos mag wat jy erken nie. Jy herken dit. Dis iets wat jy raaksien. Dit trek nader. Dit oorreed.

Goddelike liefde is ontsettend sterk, maar dit beskik oor geen mag nie. Liefde kan baie doen, maar die een ding wat dit nie kan doen nie, is om te dwing … Gebrokenheid help ‘n mens nogal hiermee.