{ARGIEF}

Ek vind hoop in oriëntasie op God.

Ek kan nie na die wêreld draai vir hoop nie. Dit lê in ‘n verhouding met Christus. Die woord oriëntering beteken ‘n gerigtheid na die ooste. Na die Oriënt. Na Jerusalem. Na die plek waar Jesus gekruisig is en opgestaan het.

Die Christelike tradisie het dit dan ook letterlik opgeneem. In Latyn beteken dit mense rig hulle na die oriens sol – die opkomende son (Dirkie Smit). Dis ook interessantheidshalwe hoekom katedrale – in Europa oa – op ‘n oos-wes-as gebou is. Die altaar/preekstoel is aan die oostekant. Gelowiges kyk dus na die ooste wanneer hulle aanbid. En van hieruit is hulle georiënteer.

‘n Mens sou ook kon praat van die Son van geregtigheid wat oor hulle/ons skyn, met gepaardgaande implikasies. Hoe Hy ons lewe verlig … En hierin lê hoop – my hoop!

En hierdie hoop kan ‘n mens nie vir jouself uitwerk soos met soveel moderne vorme van hoop nie. Nee, dis ‘n geskenk, ‘n genade-geskenk. Ons ontvang dit! Dit lê nie daar ver vorentoe of hoog bo iewers nie. Dis binne-in ons.

En só word ons weer God se hoop vir hierdie wêreld. Hierdie hoop plaas ons op nuwe roetes. Nuwe weë. Dit laat ons nuut dink en kyk. Dit laat ons ánders optree! En hierdie “genade-gedrewe sprietjies van hoop” wat oral uitslaan, help my om hoop vir die toekoms te herwin.