{ARGIEF}

Ek dink die voorval waarin me. Winnie Madikizela-Mandela betrokke was nadat haar motor vir hoë (en roekelose?) spoed afgetrek is, moet deeglik ondersoek word. Dán eers sal ‘n mens verantwoordelike uitsprake hieroor kan maak.

Waaroor ek egter bekommerd is, is hóé heelwat Suid-Afrikaners konflik/verskille hanteer, veral as hulle onder druk geplaas word. Hoekom reageer ons soms met soveel aggressie, geweld?

Sonder om die saak te oorvereenvoudig, wil ek net één perspektief gee. Apartheid het mense gebrutaliseer – die nuwe bedeling het mense ontnugter. En dít het aanleiding gegee tot aggressie, frustrasie en psigiese onsekerheid – mense soek “vastrapplekke”. Wat gebeur as gevoelens/emosies soos vernedering, ontevredenheid, woede en teleurstelling oor lang tye geïgnoreer word? Wel, lees maar net die koerant en skakel die televisie aan!

Ons sal mekaar baie beter moet help om ons sterk negatiewe emosies, meer konstruktief te hanteer. Baie mense is emosionele tydbomme. Seer en verliese is/word diep gebêre. Ons benodig egter emosioneel intelligente Suid-Afrikaners.

Wonderlike dinge het sedert 1994 in ons land gebeur. Die één ding, waarmee ek dink ons oor alle grense nie genoegsaam gehelp is/het nie, is emosionele genesing. Onverwerkte emosies het die vermoë om hulself rond te skuif en op vreemde plekke en onverwagse oomblikke aggressief na vore te spring!