Die Psalms leer ons dat gesprek met God nooit losgemaak kan word van ons lewensomstandighede nie. Wanneer dit goed gaan, is daar dankbaarheid en standvastigheid en kleur dit ons gesprek met God – uitgedruk in lofpsalms. Wanneer ons gekonfronteer word met die donkerte in onsself en in die lewe, is daar worsteling en weerstand en kleur dit ook ons gesprek met God – uitgedruk in klaagpsalms.
Nog dieper as dit, die Psalms leer ons dat dit nie net ons persoonlike ervarings is wat deel is van ons gesprek met God nie, maar ook die verskeidenheid van ervarings in die wyer gemeenskap. Ons gesprek met God word, trouens móét onontwykbaar gekleur word deur ons ervarings – goed of sleg – binne die geloofsgemeenskap sowel as in die publieke gemeenskap.
Dit beteken dan ook dat die Psalms ons leer dat die angs oor en opstand teen ’n gebrek aan geregtigheid en billikheid in die wyer gemeenskap telkens ingetrek moet en kan word in ons gesprek en worsteling met God in die verwagting dat Hy sal optree en verandering bring.
“communion with God cannot be celebrated without attention to the nature of the community, both among human persons and with God … Indeed, it is through the question of justice that communion is mediated.” (The Message of the Psalms, 1984:169).
Ja, en ek lees God so duidelik in my omstandighede en wat in en om my gebeur, goed of sleg. En so leer ken ek Hom beter – lof of smeking, op my kniee!