{ARGIEF}

Ek vra toe min of meer in die volgende woorde, “Wat sal gebeur as jy by die gemeente aankom en vir hulle vertel jy het geen uitgewerkte planne vir hulle nie, maar dat jy hulle wil uitnooi om saam met jou onder daai pragtige boom te sit en wag tot God daar verby kom?”  Die doodse stilte wat daar in die klas was vir ‘n hele rukkie het waarskynlik meer te doen gehad met baie se poging om net die ongewone vraag te verstaan, maar toe ek die stilte lank genoeg laat aangaan kom daar ‘n kort en kragtige reaksie van een van die vrouens in die klas:  “They will fire me!!!”

Ek het altyd gewonder of ek self die moed sou he om ‘n soortgelyke benadering te volg wanneer ek weer nuut in ‘n gemeente aankom.  Die toets het vinniger gekom as wat ek verwag het, maar gegewe ‘n baie sterk predikant-afhanklike kultuur in die gemeente moes ek seker nie so verras gewees het nie.  En al was ek gelukkig nie so moedswillig om mense te nooi om saam met my onder ‘n boom te sit en wag op God nie, kon ek die vroee geleentheid benut as ‘n gawe van God om die gesprek oor geloofsonderskeiding aan die gang te kry.  Dit het gekom in die vorm van ‘n vraag tydens my eerste groepsbyeenkoms met so ‘n twintigtal baie aktiewe lidmate.  Hier is daar nog ‘n tradisie dat belangegroepe in die gemeente en breer gemeenskap die dominee nooi om hulle “toe te spreek”.  En die groepie wou he ek moes hulle kom “toespreek” oor wie ek as hulle nuwe dominee nou eintlik is (ek is immers ‘n rare verskynsel as hulle nuwe dominee wat nie van die PCUSA of die USA is nie!).

Met hierdie eerste geleentheid was dit vir eers net my eie bedoeling om te kyk of ek ‘n postuur kon inbring wat meer van ‘n gesprekskultuur aanmoedig as hoe hulle tradisioneel daaraan gewoond is.  Ek besluit toe om nie agter die podium te gaan staan wat heel netjies vir my voorberei was nie en om my beste geselsstyl uit te haal.  Dit werk toe ook heel goed om hier en daar ‘n vraag in te gooi en ‘n bietjie interaksie aan te moedig.  Op ‘n stadium vra ek toe ook sommer wat hulle verwagtinge is van wat ek as predikant moet doen.  Dit is toe dat ‘n ouerige dame meen die vraag is nie reg gevra nie, en dat die vraag eerder is, “wat is jou plan vir ons, dominee?”  Dit was eenvoudig een van daai momente waar jy weet jy kry dit dalk nie gou weer nie.  So dramaties as moontlik antwoord ek toe so kort as moontlik:  “Ek het GEEN planne vir julle nie!”  En toe wag ek in stilte vir die oomblik om in te sink en geniet ek die verskeidenheid van gesigsuitdrukkings wat my antwoord begroet.

Na ‘n rukkie probeer ek toe gesprek aanmoedig oor waarom dit belangrik is dat ek so geantwoord het.  Dit terwyl ek goed weet vanuit my werk as konsultant met PCUSA gemeentes oor die laaste vier jaar dat “God se plan” ‘n belangrike konsep is in hierdie denominasie (terwyl ek tussen die Lutherane in Minnesota altyd moes seker maak ek kwalifiseer dat God se plan “hidden” is!).  Maar vir Presbeteriane is dit belangrik om te weet dat God wel ‘n plan het en dat ons wel veronderstel is om uit te vind wat God se plan is.  In die gesprek wat toe volg was daar niemand in die groep wat gedink het dit is ‘n goeie idee dat ons God se toekoms vir God beplan nie.  God beplan God se eie toekoms vir ons.  Ek moes toe ook verder verduidelik hoe dit dan nou is dat die dominee ook nie daai plan in ‘n bloudruk met hom saam dra nie.  Veral nie ‘n “legal alien” (my regstatus in die VSA!) wat geen idee het van die kultuur en sy mense nie.  Ek het van die liggaamstaal van sommige afgelei dat daai deeltjie nie baie sin maak nie, maar daar was ten minste heelwat energie vir die res van die gesprek om te praat oor hoe ons dan nou uitvind wat God se plan is.

Dit was nie die oomblik om enige verdere vlakke van kompleksiteit in die daai gesprek in te bring nie, maar dit het ten minste belangrike oomblikke opgelewer wat die basis sou word van ‘n Saterdag retreat wat nie te lank daarna gevolg het nie… (hieroor in ‘n volgende blog bydrae).