{ARGIEF}

Die digter van Ps 107 moes op een of ander manier vier egte swaarkry goed aan sy eie lyf ervaar het. Dit maak sy lied lewens-eg: Woestyn-dors/honger; gevangenis-stikdonkerte; dodelike siekte [wat jy uit onverantwoordelikheid oor jouself gebring het] en die insluk-gevaar van die gevreesde Yam — ‘n tierende seestorm.
Maar die chesed van God; sy aanhou en aanhou en aanhou goedheid [goedertierenheid] red sy mense elke keer onverdiend uit hulle nood. Wow!
Hierdie altyd-daar-goedheid van God, is in Christus Jesus heeltemal volledig vir ons gegee. Hy het in sy lewe op aarde presies hierdie reddingsdade kom uitleef. So vertel die Evangeliste. Hy is die Messias, die Seun van God. Hy het die honger en dors van die ellendiges kom les; die gevangenis kom bevry; siekes gesondgemaak en die storms het verbasend, eenvoudig in sy teenwoordiheid bedaar. Kyk, die Koninkryk het naby gekom; glo Hom!
“Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie”, dis waaroor die digter nie uit sy binneste kon stilbly nie. Hy gee ons die woorde om dit ook vandag oor en oor na te sê. Ons sal dit nooit uit onsself doen nie.
Die lied begin só en eindig só en lei daarom die 5e Psalm-boek perfek in as die groot crescendo van die Psalm Bundel; alles om ons oë/harte oop te maak waaroor ons lewe eintlik gaan.