{ARGIEF}

Cas, ek stem heelhartig met jou saam. Hierdie aspek, wat jy treffend uitbeeld, is seker die een wat meeste van ons besinning die afgelope twee jaar hier in die PhD program oor missional gemeentes in beslag geneem het. En ek dink wat jy en Frederick met die liturgie in verband bring is waar in baie breer verband. Nie net hoe die kerk gasvry teenoor kultuur kan wees nie (soos jy dit stel), maar veral hoe die kerk die wereld ‘n gasvry plek kan vind (Lukas 10).
Ek dink daar is ‘n bepaalde Godsbeeld, en meer spesifiek ‘n bepaalde siening van die verhouding tussen God en wereld, onderliggend aan hierdie kwessie. Wat ‘n Godsbeeld betref, het veral Jurgen Moltmann my help verstaan hoe beslissend dit kan wees of ons oor God as ‘n “self sufficient” Subjek dink wat hoegenaamd nie deur die wereld geaffekteer word nie (met die implikasie dat die wereld alleenlik God se objek is), en of die verhouding God-wereld meer ‘n wederkerige verhouding is. Dit het ook alles te make met die leerstelling rakende creatio ex nihilo en creatio continua (Moltmann toon dit aan, maar buite die gereformeerde teologie vind ek veral die Ortodokse teoloog, John Zizioulas, treffend hier rondom), en hoe ons die verskillende Bybelse nuanses van God se openbaring interpreteer (Pannenberg se kritiek op ‘n bepaalde lees van Barth).
Glo ons regtig dat God steeds aan die werk is in die wereld, of dink ons God is “domesticated” in die kerk? Indien eersgenoemde waar is, sal ons nie anders kan as om te soek na waar God teenwoordig en aktief aan die werk is in die wereld nie. Indien laasgenoemde waar is, dan sal die wereld altyd ‘n veerpyltjiebord wees waarnatoe ons mik met die evangelie.