{ARGIEF}

Jampie verwoord m.i. die uitdaging vir ouers uitstekend – ook ons onvermoë om emosioneel intelligent te probeer optree as ons kinders met ons in gesprek is. In aansluiting by Jampie vind ek dat die verstek posisie van ons as “gelowige” ouers die van ‘n moralisering is. Ons onvermoë om die emosies te hoor, is omdat ons onwillekeurig neig daarna om ons kinders se kommunikasie moreel/eties te beoordeel. Byna asof ons dink die belangrikste ding wat ouers doen, is om te be-oordeel en dikwels te ver-oordeel of ons kinders reg of verkeerd is en dat dit ons taak as ouers is om hulle vernaamlik te wys op waar hulle verkeerd is. Ons sal ‘n nuwe verbeelding moet ontwikkel van ouerskap wat bevry word van hierdie moralistiese verstekposisie. Jampie en Alta is korrek, as ek hulle reg verstaan, dat ons eerste taak is om goed te luister en veral die emosies van ons kinders te verstaan en te verwoord. Eers dan ontstaan die moontlikheid dat ons saam met hulle – dit is die punt van positiewe ouerskap se deelnemende ouerskap – ook kan en moet dink oor moraliteit. Ek vind dit besonder moeilik om bv. oor die TV kultuur van die nuwe generasie – sluit ook maar Face Book ens. in, is ek vanuit my generasie eintlik uit beginsel geneig tot ‘n negatiewe instelling hieroor – dit is vir my tydmors – maar vir my kinders is dit ‘n lewensnoodsaaklike deel van hulle sosialisering. Indien ek nie bereid is om vanuit die ervaring van my kinders daarna te kyk nie, sal ek dit moeilik vind om te verstaan hoekom dit vir hulle so belangrik is. Ek druip gewoonlik die toets.