{ARGIEF}

Ek is onlangs deel van ‘n VBO kursus waar ‘n paar lidmate deelneem om van hulle ervaring in die gemeente se proses van geloofsondeskeiding met ons te deel. Een van die lidmate is ‘n wetenskaplike. In die kerk grootgeword en eintlik maar altyd deel gewees van die leierskap in die gemeente.
Hy vertel hoe onseker hy was toe hy as deel van die proses homself vir ‘n uur moes gaan afsonder met die Bybel, met die opdrag om na te dink oor die vraag: Wat is die Here besig om vir jou te se! Hy vertel hoe ontredderd hy gevoel het, maar hoe hy in die proses van geloofsonderskeding geleer het dat die Heilige Gees inwerk in ons verstand en dit transformeer.
Ek vermoed, Jannie, dit is wat jy bedoel met “Die kuns van verbeelding is die skep van ‘n openheid in gemeenskap met ander waar daar ruimte kan wees om die diepte-dimensies van die rykdom van God se teenwoordigheid en aktiwiteit as ‘n gawe in ons werklikheid te kan ontvang. Dit is om van die dieper dimensies as die blote oppervlakte aannames tussen mense bewus te word waarin God reeds en aanhoudend skep en vorm, en om te leer hoe om onsself in te leef in daardie werklikheid.”
In reaksie op sy getuienis vra een van die kursusgangers byna afwysend na die gevaar van ‘n subjektiewe lees van die Bybel en verklaar dat ‘n mens eintlik nie kan antwoord op die vraag na wat die Here nou besig is om vir jou te se nie.
Ds antwoord die lidmaat, dit mag waar wees, maar glo jy dan nie dat die Gees nou hier is en ook inwerk in ons kognitiewe kapasiteit om ons denke te verlig nie. Ons wat so rasioneel is sal moet leer om onsself oop te stel vir die nuwe denke (verbeelding) van die Gees.
Ons gaan onsself nie uitgedink kry uit ons moeilikheid nie, daarvoor is ons verbeelding te verweefd met ons aannames. Ons sal die ruimtes moet betree waarvan jy praat waar ons toelaat dat ander dimensies van die Gans Andere ons gedagtes vernuwe.As ek jou reg verstaan is hierdie vermoe nie gekoppel aan wat ons normaalweg onder verbeelding verstaan nie- asof dit iets is wat net aan sommiges gegee is nie, maar dat dit ‘n gawe is wat aan ons almal gegee is wat bereid is om ons oop te stel!