{ARGIEF}

Prof Stan du Plessis het sy lesing begin deurte verwys na hoe maklik ons as gemeentes en teoloë met ‘n algemene houding van die “agteruitgang” van die ekonomie en die groeiende armoede werk. Hy het oortuigend aangetoon dat die teendeel waar is, naamlik dat ons in ‘n tyd leef van ongekende ekonomiese groei en vooruitgang – ten spyte van die huidige ekonomiese krisis.
Ek het op die oomblik uitgevang gevoel – ek dink hy is reg – ons hou van slegte nuus -nie net oor die ekonomie nie, maar in die algemeen is ons geneig om eers te verduidelik hoe dinge besig is om uit mekaar te val en agteruit te gaan, en as ons ons gehoor oortuig het, kom ons met ons oplossing.
Batebouers – ons denkraamwerk vir die konferensie – dink natuurlik anders – vra nie wat verkeerd is nie, of wat die probleem is nie, maar waar daar bates is waarop ons kan bou. Maak geen fout nie, dit gaan so ‘n bietjie teen ons teologiese grein in – en ek weet daar is ‘n gevaarlike eensydige kant hieraan – natuurlik moet ons in hierdie tyd bv ernstige vrae vra oor die prys wat die sg groei-ekonomie ons kos in terme van die oorbenutting van bronne ens.
…maar daar is ‘n ander kant waar ons ewe ernstige geloofs- of kan ek sê Godsvrae moet vra – is God teenwoordig in die ekonomiese groei wat ons geslag beleef het, of sien ons God net raak in die skadukante en nie ook in die herstel en vooruitgang van die wetenskap en die ekonomie nie!
Dit is tyd dat ons bewus moet raak van die dikwels onbewuste magstoe-eiening van ‘n teologie wat net fokus op die probleme en nie ook sigself kan verwonder aan die herstel nie. Sulke teologie en gemeentepraktyke is geneig om God net raak te wil sien in die formules van ons kerklike en teologiese tradisies, en sonder dat ons dit besef, haal ons almal uit spel wat nie ook soos ons in die taal van die Teologie met ‘n hoofletter kan praat nie.
Hoe kan ons met Stan en kie teologie praat vanuit die perspektief van verwondering oor ‘n God wat omgee en sorg? Dalk moet ons Pat Keifert se bekende stelling weer hier onthou: “the question is not what the hell is going on, but what in heavens name is God up too!?”
Dalk moet ek ‘n wag voor my mond sit wanneer ek weer ‘n preek begin met ‘n probleemstelling …