{ARGIEF}

Verslag aan die Bestuursraad/Bedieningskomitee oor die VBO-werkswinkel oor Geestelike Leierskap gehou te Stellenbosch-Wes op 11-13 Maart 2008
Eerstens dankie aan die gemeente en die nodige leiersstruktuur wat dit vir my moontlik gemaak het om die kursus te kon meedoen. Besondere dan ook aan Coenie Burger en Braam Hanekom as begenadigde en begaafde aanbieders.
Riana Scheepers (skryfster) het vroeg vanjaar in die BY, as toevoeging tot die Saterdag-Burger, ’n kortverhaal gepubliseer met as titel (as ek reg kan onthou) ‘Die dag toe die boervrou die moer in was’ Die hele verhaal in ’n neutedop kom daarop aan dat die dominee versoek het om huisbesoek te doen by die werkers op die plaas. Dit is parstyd en hulle ure is van bitter vroeg tot laatmiddag. Behoorlike tyd vir die gevraagde besoek is daar nie – mits dominee kans sien vir vroegoggend. Hy stem in…ietwat dikvellig om nie die boodskap te hoor dat die besoek op dié tydstip ongemaklik, onvanpas, of dalk ongevraagd is.
Die besoek word gereël en uitgevoer…en instede van bemoediging, sensitief vir die mense en hulle situasie in die bloedige son vir die volgende paar weke..onsensitief vir die rykdom aan simboliek waarmee die werkers vir die volgende weke in die wingerd gaan besig wees om die vrug te pluk danksy goeie boer-tegnieke…bemesting, snoei en oplei ens (Joh 15)…sien dominee sy weg oop om te praat oor hulle sondes en swak kerkbywoning…en daarom mevrou boer se begryplike reaksie! Ek het gedink dit is ’n briljante kortverhaal…maar het my ook verleë laat staan oor ons dominees se gebrekkige aanvoeling vir situasies en omstandighede….maar ook dalk ’n meganiese geprogrameerdheid sonder passie!
Ek het geen twyfel aan die feit dat ek as VDM ’n leier is nie. Ek worstel egter deurentyd met die vraag – wat is leierskap in die kerk en spesifiek in my geval as ’n VDM (Verbi Divini Minister) Vroeg in die kursus hoor ons: Leaders are Lovers. Dit resoneer met my! My opdrag as leraar is in die eerste plek is om op te tree as iemand wat deur die Lewende God geroep is en gestuur word – die God wat liefde is!…die God wat daarom ten einde hierdie liefde te demonstreer, sy Seun stuur. Daarom is ’n geestelike leier, iemand vir wie Jesus ’n werklikheid is. Hy sit nou aan die regterhand van die Vader en heers as Koning. ’n Leier is dus iemand wat weer opnuut ja sê vir God en die evangelie van Jesus Christus, wat ja sê vir sy roeping…wat ja sê vir Afrika en ons hier en nou-wees in hierdie land van ons…iemand wat ‘vrees vir die toekoms in vertroue vir die toekoms verander’ ….manne en vroue wat soos Napoleon, as ‘handelaars in hoop’ optree.
Van hieruit was die kleingroepgesprekke tydens die kursus van onskatbare waarde aangesien ons moes luister na mekaar rondom ons roepingsverhale, ons opleiding as bedienaars van die Woord, hoe ons roeping geskuif en gegroei het, ons geskiktheid as predikante vir die opdrag…en roepingsverhale uit die Bybel wat ons aanspreek. Ek wens ek kon uitbrei hier omdat dit intens en verrykend was!
Wat nie met my resoneer nie is leierskap-modelle vir geestelike leiers wat opsigself nie aweregs is nie maar wat God nie verdiskonteer daarin nie…en my vrees is dat die aanloklikheid en die suigkrag daarvan ons kan opsuig en hervorm tot briljante leiers gemeet aan die sakewêreld se standaarde…(nie dat daar daarin ontskatbare wysheid opgeluit is nie) maar dan mense sonder ‘compassion’, sonder deernis, sonder sensitiwiteit en ’n fyn aanvoeling vir die dinge wat saakmaak…’wounded healers’ Daarom was ek bemoedig en versterk met ’n gedagte op die laaste dag – die drie-poot beginsel nl
1. elke dag ’n ontmoeting met God
2. elke dag ’n ontmoeting met medemense
3. vind jou nis en passie in jou werk…en doen dit!
Inderdaad is dit waar as André Gide sê: “One doesn’t discover new lands without consenting to loose sight of the shore for a very long term” Hiertoe is ek verbind…en ook om met positiewe denke, vriende, ’n goeie selfkennis, gesindheid en balans die sprong te maak! Ek bevind my inderdaad in die kragveld tussen visie, wysheid, motivering, kollegas/spanne en my eie karakter. Sonder ’n ware en opregte ontmoeting met God egter en ’n lewende verhouding met Hom, kan ek hoegenaamd aanspraak maak op die ‘benaming’…geestelike leier!
Wat wil ek gemeente toe vat?…myself as begenadigde struikelaar, maar wat intens bewus is van die Hoëpriester wat vir my intree en met my medelye het…wat met Sy bloed vir my ’n pad oopgemaak het tot in die hart van God (Heb 4) en vir my die gawe van vrymoedigheid gegee het om regop te mag staan en lief te kan hê…wat by my is en my nooit sal verlaat nie!
Ek het teruggery huistoe na die kursus – dankbaar, nederig…en opnuut bewus van my roeping!
Dankie
Theunis Botha
VDM Stellenbosch Welgelegen