{ARGIEF}

‘n Storie oor die Nuwe Koers wat God met sy mense lank gelede ingeslaan het—die Koers [Koninkryk] waarin Hy nog altyd regeer en die enigste Een in beheer is; die Koers wat op die ou einde, hoewel baie vreemd, die enigste sin is.
* Ons hoor onder meer dis ‘n Nuwe Lewe waarin God altyd weer die inisiatief neem. Net soos Hy met sy Skepping en met sy Herskepping na die sondeval in die paradys gedoen het. Mense is net in staat om vir Hom en vir hulleself [staties] weg te kruip/weg te hol of vasgeloop te sit en ‘sulk”, soos Samuel in hierdie verhaal. Dankie tog. Hy ons enigste vaste Hoop!
* Maar nou sê die verhaal: God se inisiatiewe om ons te laat lewe, sit ongelukkig heeltemal dwars op ons sieninge van wat lewe is. God vat ons op só ‘n vreemde, nuwe pad, hierdie enigste ware lewenskoers! Dis só heeltemal vreemd, dat Samuel doodbang daarvan wou terugdeins. Ja, dis inderdaad soms gevaarlik om agter God aan te gaan! Dit lyk my om in God se teenwoordigheid, naby agter Hom, aan te loop, is meestal erg ongemaklik. Dis nie so ‘cosy’ soos ons dit soms graag vir onsself voorstel nie.
* Maar, dis duidelik uit God se verhaal: Daar is net een manier om agter Hom aan te gaan: Gehoorsaamheid. Onvoorwaardelik. Doodgewoon net doen wat God sê! Soos Samuel toe gedoen het.
* Die Nuwe Pad agter God aan, met Hom in beheer, gooi ons egter heeltemal uit beheer. Arme Samuel het die erediens daardie dag, nogal op God se bevel, so netjies in Betlehem beplan. Menslik gesproke het daar egter niks volgens plan geloop nie. Is dit regtig hoe God ons lei?
– In plaas daarvan dat die mense met vreugde “kerk” toe gekom het, was hulle aanvanklik agterdogtig en selfs ontsteld. Is dit ons verwagting van erediens toe gaan?
– En toe met die ‘salwery’ van die nuwe koning. God wat sy nuwe dienaar-leier vanuit die erediens, gestuur het. Kan ons dalk sê: uitgestuur vanuit die sakramentele deel van die diens, soos die gemeentes vandag nog? Hiervan het daardie dag niks vir Samuel in plek geval nie. Sewe [volmaakte] kandidate word voorgestel. Ek sien in my verbeelding: Die eerste een met die imponerend voorkoms,charisma en al –gebore leier; die ander een met uitstaande geleerdheid agter sy naam; die ander een met die uitstekende mense-verhoudinge; nog een, ‘n fantastiese organiseerder – hy weet van delegeer; die volgende wat uitstekend met finansies kan werk; die voorlaaste is so ‘n goeie familie-mens— ‘n voorbeeld vir almal; die laaste een met die onkreukbare karakter. Maar God kies nie eers uit “sewe”, dws sy eie volmaakte getal, nie! Kan dit regtig so werk as ons Hom volg? Dit kan mens net verwar?
– En toe die onverkwiklike lang wag. Daar is toe wel ‘n agtste kandidaat. Maar hy was nie eers gereken om erediens toe te kom nie; te jonk vir die ‘sakrament’ dalk? Hy pas liewer, saam met die ander herders, skape buite in die veld op. Maar God sê hy móét kom. Eers moet hy ook nog deeglik gereinig word – mens kom nie sommer onvoorbereid, soos jy wil, voor God nie! Kan ons dink hoe lank was die gewag daardie dag? Party, so hoor ek in my verbeelding, sê: “Niemand sien my weer by dié ‘kerk’ nie. Ek soek ‘n ‘uur-kerk’; netjies, met ‘powerpoint’ en al, dit hou my wakker en dis hoe dit tog in die markplek werk!
– En toe kies God sowaar, in hierdie deurmekaar erediens, die onverwagte rooierige outjie. Die agste een. Dis die heel laaste wat ons sou doen. En God se Gees neem hom in besit. Hy is sy nuwe mens op Sy Nuwe Pad.
* En ek glo elkeen het daardie dag met die seë van die Here huis toe gegaan. Dis só anders, dis só vreemd dat jy bang kan word; dalk só verskriklik eenvoudig; só deurmekaar! Maar dis hoe in die storie op sy nuwe Koers met mense werk. En sy seën op die pad is eg. Mens kan nie daarsonder nie.
* Of ons wil weet of nie, dis ook ons storie. Ons wat God later in Jesus van Nasaret ook weer heeltemal nuut [wedergeboorte deur sy Gees] ontdek het. Hierdie Jesus was ook die laaste Een wat mense sou kies [Jes 53]. En om Hom te volg, is nog duideliker, net soos in Samuel se dae…