{ARGIEF}

deur Alida Vorster
APRIL interaksie
APRIL interaksie
Die Durbanville Plaasfees, het op 14 Maart 2015 op die Diemersdal wynlandgoed plaasgevind. Hierdie jaarlikse instelling is vir die agste keer aangebied en die vroue van Bergsig het voorwaar weer hul ywer vir hierdie groot projek gewys deur aan almal se smaak te voldoen. Feesgangers wat met nostalgie hunker na die dae toe hul op strooibale kon sit, koeie geruik en die skape hoor blêr het, kon na hartelus as families kom ontspan – net
‘n hanetreetjie buite die stad.
Daar is lyf fynproewer gehou en by die stalletjies is lekker rondgesnuffel met tipiese kos soos afval, skaapkoppe, skaapstertjies, hoenderboudjies, waterblommetjiepotte, ribbetjies, skilpadjies, roosterkoeke, jaffels, pampoenkoekies, pannekoek, basaarpoeding, allerlei gebak soos verskeie soorte brode, beskuit, ingemaakte produkte, konfyt, souse, ens. Genoeg te ete en te drinke vir een en elk!
Feesgangers se sakke is uitgedaag met die heerlike vars plaasprodukte, plante, groente, vleis en die erfgoeduitstalling en dit het bygedra om ‘n heerlike plaasatmosfeer te skep.
Baie kindervermaak soos trekkers, plaasdiere, skaapskeer, gesigverf, trapkarre, springkastele, tombolatafel, perdjies, “Paintball”, Bomanie meerkat-vertoning, “Big Wheel”, swaaie, rondomtalie, “dizzy barrels ride” en poppekas was beskikbaar.
Ons was gelukkig met lekker musiek. Heinz Winkler asook Twee en Steyn Fourie was van die gaskunstenaars en ‘n nuwigheid, die hoender “grooming”-item, is by die plaasfees geloods. Die “Groot Pampoen-kompetisie” van Shoprite en Checkers is by die plaasfees aangebied. Dié jaar se
eerste prys is aan Pikkie Swart van Heidelberg en sy pampoen, ongeveer 478kg, toegeken.
Die fees was werklik, soos geadverteer is, plaasplesier vir die breë gemeenskap. Dit was familieen gesins-vriendelik vir oud en jonk!