{ARGIEF}

deur Anneke Groenewald
APRIL interaksie
APRIL interaksie
Die Vrouediens van Parow se missie is om ‘n positiewe verskil in mense se lewens te maak.
Verlede jaar het ons besluit om ‘n snoesige winterkuier op ‘n Saterdagoggend te hou. Groot was almal se verbasing om te sien hoeveel mense hierdie geleentheid bygewoon het. ‘n Dame, Sherm van ons plaaslike Buurtwag, was ons gasspreker en het ons meer kom inlig van dwelms in en om ons. Hiermee sê ek letterlik ons bure.
Dit sluit alle ouderdomsgroepe in. Hartseer om te weet hoeveel mense in hierdie strik vasgevang is. Die groot vraag is egter: Is ek en jy betrokke by ons kinders? Weet ons te alle tye waar hulle is? Ons moet weer in diepte ondersoek instel by ons ouerhuise. Ons ken nie meer gebruike soos aan ‘n tafel sit en eet nie.
Praat ons nog met ons familie en hoor of daar probleme is? Hou ons nog huisgodsdiens? Ja, ons weet die lewe is ‘n dolle gejaag, maar ons moet asseblief tyd maak vir mekaar. Ons kinders is ons toekoms en wat gaan volg as hul nie leiers kan wees nie?
Ons Jaareindfunksie was voorwaar ‘n gesellige byeenkoms waar almal heerlik kon jubel en juig oor die Christuskind se voorspelling en geboorte wat gevier word.
Die Morawiese gemeentekoor het ons voorgegaan in hierdie Adventtyd. Almal het uit volle bors gesing en dit was baie besonders. Dit was so jammer dat die tyd dié aand so vinnig verbygevlieg het.
Ons daaropvolgende openingsbyeenkoms vroeg in 2015, is ook baie goed bygewoon. By hierdie geleentheid is o.a. die nuwe komitee bekendgemaak. Ons gaskunstenaar, Ebenette van Wyk, het ons harte warm gemaak met haar pragtige stem en spontane interaksie met almal.
Ons eerste “Coffee Shop” vir 2015 is gehou op  Saterdag, 7 Februarie en het een van ons grootste bywoningsgetalle nog gelewer. Voorwaar iets om oor baie dankbaar te wees. Dit was veral goed om te sien hoeveel van die “sterker” geslag ook teenwoordig was. Hier kon ou vriende mekaar weer raakloop en lekker gesels rondom ‘n koppie tee.
Ons Vrouediens hier in Parow is werklik geseënd en  ons gaan met ‘n blye gemoed hierdie nuwe jaar se projekte en funksies aandurf met die wete dat ons Liewe Heer die pad saam met ons stap. Ons gaan werklikwaar poog om in ons optrede saam hande te vat en so ‘n verskil in ander se lewens te maak!