{ARGIEF}

Stel jou voor dat jy, soos Salomo van ouds, wakker skrik en jy hoor duidelik die stem van die Hemelse Vader wat sê jy kan vra net wat jy wil en jy sal dit kry. Wat sal jy kies? Ek dink eerlik nie dat ek wysheid sou kies nie! Sit so ‘n rukkie stil en dink wat jy sou kies …!
Weet jy wat wys navorsing wat sou die meeste mense in die wêreld kies? Geluk!
Baie mense dink hulle sal gelukkig wees as hulle meer geld het, die ideale beroep beklee, die lotery wen, ‘n nuwe huis kan betrek, getroud is, noem maar op. Hierdie dinge dra by tot jou geluk, maar dit bring nie daardie diepgaande gelukkigheid waarna almal smag nie. Inteendeel, hierdie soort diepgaande geluk moet die deel van elke Christen wees. Die Bybel sê baie duidelik in Joh. 10:10 dat die God ons geskape het om ‘n lewe van oorvloed te hê en geluk is gewis deel daarvan.
In hier die reeks oor Geluk gaan ons kyk hoe en waarom ons ‘n gelukkiger lewe moet lei. In Maart sal my boek ”Dink jouself Gelukkig” op die rakke wees en ek gaan in die volgende uitgawes belangrike punte daaruit behandel.
Kom ons begin in hierdie uitgawe eers kyk na watter mites daar oor geluk bestaan:
Mite 1: GELUK MOET GESOEK WORD
Geluk is wel daar maar slegs as die regte goed met ons gebeur: die regte betrekking, die mooi huis of die ideale gesin. Ver van die waarheid! Geluk is binne ons en hoef nie gesoek te word nie. Dit is ‘n ingesteldheid (mindset) en deur ons gedagtes te verander, verander ons lewens en kan ons ‘n lewe van geluk lei. Verstaan jy nou waarom die Bybel so dikwels noem dat ons ons gedagtes moet verander? (Fil. 4:8; Rom.12:2).
Luister hierna as jy my nie glo nie!: Interessante navorsing is in 1989 gedoen oor hoe die verandering van ‘n mense se kopgeloof en gedagtes tot wonderlike veranderinge in jou lewe kan lei. Dr Ellen Langer, en ander wetenskaplikes van Harvard universiteit, het ‘n aantal mans bo die ouderdom van 70 vir tien dae na ‘n vakansieoord geneem. Hulle opdrag was om op te tree asof hulle in die jaar 1959 leef. Hulle moes dus gesels oor die werk wat hulle toe gedoen het, die president van daardie tyd, en so meer. Die musiek wat gespeel het, was die musiek van daardie tyd, tydskrifte was ook van daardie tydvak en hulle moes foto’s bring van voor 1959. Hulle was dus vir 10 dae geïndoktrineer: “Julle leef nou in die jaar 1959”. Voordat hulle die navorsing begin het, is hulle blootgestel aan ‘n klomp fisiologiese toetse soos hulle lengte, die lengte van hulle vingers, sterkte, geheue en hulle sig asook psigometriese toetse. Na die 10 dae is die metings weer gedoen. Hulle het gevind dat die mense fisies langer geword het, hulle vingers gegroei het, hulle sig het verbeter en dat hulle geheue beter was. Inteendeel, die meeste het begin optree verskeie jare jonger as wat hulle werklik was! Sommige het fisiologies en kognitief selfs 25 jaar jonger gereageer! Dit na 10 dae! Inderdaad, verander jou gedagtes en jou lewe verander! WOW!
Mite 2: EK KAN NIE GELUKKIG WEES AS MY VERHOUDING VERBROKKEL NIE
‘n Huwelik wat deur probleme gaan beteken nie dat jou lewe verby is nie en dat jou geluk nou daarmee heen is nie. Inteendeel, daar is verskillende maniere om dit te hanteer waarvan egskeiding slegs een is. ‘n Beter oplossing is om eenvoudig net weer aan jou verhouding te begin werk. Jou geluk lê per slot van sake in jou eie hande.
Mite 3: EK GAAN GELUKKIG WEES AS EK KINDERS HET
Is dit nie die versugting van so baie kinderlose huwelike nie? Ek gesels nou die dag met ‘n vriendin wat jare gesukkel het om swanger te word en uit die bloute uit sê sy: “Ek hou glad niks daarvan om ‘n ma te wees nie!”. Sy beskou die bekommernisse oor die toekoms van haar kinders, die rondjaag van een skoolaktiwiteit na ‘n ander en die teleurstellings, as ‘n sware las.
Kinders kan dikwels die grootste bron van ons vreugde wees, maar ook die oorsaak van die ongelooflikste hartseer!
Mite 4: EK KAN NIE GELUKKIG WEES AS EK NIE ‘N LEWENSMAAT HET NIE.
Dit is wel so dat getroudes meer tevrede is met hulle lewens as ongetroudes is. Navorsing wys egter dat die grootste verskil in tevredenheid egter nie tussen getroudes en ongetroudes is nie, maar wel tussen getroudes en geskeides, getroudes en mense wat hulle lewensmaat verloor het of wat van hulle vervreemd is.
Mite 5: EK GAN GELUKKIG WEES AS EK DIE REGTE WERK OF POS HET
Selfs die ideale werk se glorie is van korte duur!
Mite 6: EK KAN NIE GELUKIG WEES AS EK ‘N FINANSIëLE KRISIS HET NIE
Niemand kan dit ontken dat dit traumaties is om jou werk te verloor, bankrot te speel, jou huis te verloor of al jou spaargeld te verloor nie. Hoeveel mense moes al worstel nadat ‘n skelm makelaar of ander finansiële adviseur, weg is met al jou geld. Navorsing is egter baie duidelik dat dit ook moontlik is om self in die grootste finansiële krisis nog steeds gelukkig te wees.
Mite 7: EK KAN NIE GELUKKIG WEES NIE, WANT MY BESTE JARE IS REEDS VERBY
Hoeveel van ons, aan die ander kant van 50, het nie dikwels hierdie gedagte in die agterkant van ons koppe nie! Nonsens! Daar is in drie onlangse studies bewys dat die toppunt van die mense se positiewe emosionele ervaring lê tussen 64 en 79!
Nou toe nou! Met hierdie mites uit die weg geruim,  moet jy net so ‘n bietjie wag tot die volgende uitgawe en dan gesels ons oor WAT jy kan doen om daardie geluk in jouself te vind! Lekker!
Ons gaan lekker saamreis op hierdie reistog van Geluk en ‘n oorvloedige lewe!
Groetnis!
Dr Pieter van Jaarsveld
pieter