{ARGIEF}

Franziska Andrag-Meyer hou van delf in die skatkamers van ou woorde en leer aan die voete van diepdenkers. Sy hou van verse en wysies, sonder woorde, neurie en kunswerke wat die lewe in ‘n ander Lig beskou en die Goddelike inspirasie in die elke dag se dinge sien.  Sy is predikant in die NG Gemeente Suidpunt, in Struisbaai en L’Agulhas, waar sy met God in die see en die wind loop en gesels.  Sy is getroud met Kobus en hulle is ouers van Hildegard en Franco.

Die Gees self pleit vir ons…

“Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.

En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry.  Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet, die wat volgens sy besluit geroep is.”  Rom 8:22-28

Daar is ‘n ou Ierse spreekwoord wat lui: 

God hoor die gebed van ‘n hart in nood, selfs al word geen woord gesê nie. 

Wanneer ons wag op God om deur sy Gees alles nuut te maak, raak die wag soms lank.  Ook wanneer ons worstel met die nuwe skepping wat in onsself moet gebeur.  Dit is inderdaad so dat ons nie altyd woorde het om te bid nie.  Daar is ook tye wat ons so moedeloos en magteloos voel dat ons woorde net nie in ons gedagtes wil opkom nie.  Dit is of ‘n stuk botheid jou brein oorval en verlam sodat niks wat sinmaak kan deurkom nie.  En daarmee saam kom daar ‘n behoefte om gehoor en aanvaar te word.  ‘n Behoefte om net weer te weet: God het my lief.

God hoor ons, want God self praat namens ons, en bring die woorde wat ons self nie het nie.

In my bediening bly dit vir my die wonderlikste wonder, dat Godself in ons woon en vir ons pleit.

 

Raak ‘n oomblik stil, haal diep asem en lees weer stadig, sinsnede vir sinsnede die teks…

 

Watter dinge raak vir jou soms te oorweldigend?  Wat steel jou vrede of jou gemoedsrus?

 

Kom lê dit voor die Here in die verwerking van Psalm 62:

 

Net by U, o God vind ek rus, U is my redding.

Net U laat my wankelrige bene stewig staan.

Net by U, o God vind ek rus, want op U vertrou ek.

Net U is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan.

U is my krag. U is my toevlug. Ek stort my hart voor U uit! U is my toevlug.

Ons is maar verganklik, en gering. Ons raak maklik beïnvloed deur geweld, ons skrik vir oneerlikheid, ons harte word maklik mislei.

Maar ek weet dat ek net op U kan vertrou, dat U Gees vir my pleit…

Amen