{ARGIEF}

“Niks is vir God onmoontlik nie.” (Lukas 1:37)alt

 

Hierdie vers uit VROUE MET VLERKE se “sacred text” laat my altyd dink aan die swaeltjies. Deur die vrieskoue, nat dae van die winter sien ons nie een swaeltjie nie. Vroegherfs migreer ons swaeltjies na die warmer noordelike halfrond. Hulle is afhanklik van dartelende vlinders en vlieënde insekte, vars water en nat grond om te kan leef. Met die oopvou van die eerste lenteblomme, skielik, swiep hierdie wonderwerkvoëltjies heen en weer oor ons koppe. Die mannetjie en sy vroutjie kom ondersoek hulle huisie hier teen die muur in ons ou stukkende sementdam. Nie lank nie of daar word nuwe bolletjies nat donkerbruin klei vasgepleister en die ou huisie van verlede jaar word kunstig opgesmuk en mooi gemaak. Nesbouery is beslis ‘n moeisame taak. Swaeltjies is al dopgehou wat 1200 vlugte met bolletjies klei afgelê het om hulle nes te bou. Hulle ken die gevare van die “rooivlerkspreeus wat in die dae wat volg ‘n al hoe groter probleem word”. Ook die kat en die slang. Die mannetjie en die vroutjie staan mekaar by en woon en werk rustig, onverpoos, voort (Ps. 37:3-5). Hulle bou saam huis, broei saam die eiertjies uit en swoeg saam om die kleintjies te beskerm en groot te maak. Vreugdevol, onbesorg. (Ps.84 Die Boodskap)

Die huwelik laat my altyd dink aan die swaeltjies en hulle maniere van doen. Die huwelik bly ‘n wonderwerk. My blou-oog man se oë is nog net so mooi hemelblou soos die eerste dag se hemelblou 32 jaar gelede. Soos by die swaeltjies kan “huwelik-nesbou” beslis ook ‘n baie moeisame taak bly. Die leef en oorleef van ‘n huwelik, elke dag en elke nag, midde-in ‘n tegnologies-uitdagende, gejaagde lewe is die rooivlerkspreeus wat ons swaelnes uitmekaar kan breek en ons kinders opvreet. Ons word oorwerk en lewensmoeg. Verontreg en onvergenoegd. Moedeloos en teleurgesteld. Afgemat en wanhopig.

“Niks is vir God onmoontlik nie.” (Lukas 1:37) Wonderwerke gebeur. ‘n Onverwagte goeie swaar reën sak skielik uit oor die Overberg midde ‘n baie besige graanbespuitingsprogram. Wella en ek gryp die oomblik vas, want ons weet ons is oorwerk en moeg. Ons moet tyd maak om opnuut te kan fokus op dit wat werklik saakmaak en pak ons tent. (Filippense 1: 9+10). Verantwoordelikheid teenoor ons werk wil-wil ons oorweldig en ons laat omdraai terug na die bekende. Dit verg gedissiplineerde luister na God en na mekaar om tyd te maak vir die huwelik en vir mekaar. Ons weet dit is ons Here wat nou vir ons hierdie kosbare paar genadedae gee. Ons leer deur hierdie paar wonderwerkdae om te wag op die Here. Ons weet sy genade is vir ons genoeg. Ons leer om nie vinnig eie beplanning na te jaag nie. Om nie vas te kyk net na vandag se probleme nie, maar rustig te woon en te werk en op God te vertrou vir môre. Ongeag of ons moeg en oorwerk voel. Om ons nie te laat beïnvloed deur die teleurstelling van die oomblik nie en op God te bly vertrou. Om altyd dankbaar en bly te leef, want dankbaarheid vernietig die gevoelens van onvergenoegdheid en verontreg voel binne die huwelik. Om mekaar aan te vul deur op Jesus, gedissiplineerd, te vertrou en nie te verval in wanhoop nie. Om draers van hoop en bemoediging vir mekaar, binne die huwelik, te wees.

Deur hierdie paar genadedae leer ons weer opnuut: “Die liefde is sterker as die dood, die hartstog magtiger as die doderyk; dit brand soos ‘n vuurvlam wat alles verteer. Strome water kan die LIEFDE nie blus nie, riviere kan dit nie afkoel nie. (Hooglied 8:6+7 NLV + 1938)

Die huwelik het lenteblommedae, maar ook vrieskoue stormdae. Maar ons weet: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou. Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word.” (Lukas 1:28) En ons weet: “… en die swaeltjie bou haar nes en maak haar kleintjies groot, naby u altare, magtige Here, my Koning en my God! Gelukkig is hulle wat in u huis woon, waar hulle U deurentyd kan loof. Gaan hulle deur ‘n droë vallei word dit omskep tot ‘n fonteinedal. Here, die Magtige, gelukkig is hy wat op U vertrou.” (Ps 48 NLV)

(1 – Onze Nest uit Tuiskoms, stories oor die liefde, van Irma Joubert)

Amanda het ook vir ons ‘n wonderlike stuk gestuur wat bystand in die huwelik so mooi illustreer. Lees gerus “Ons maak ‘n plan” op p12.