{ARGIEF}

Anna-Marie Roux is betrokke by gebedsmobilisering en –koördinering. Sy het haar eie kommunikasiekonsultasiebesigheid, is getroud met ‘n omgewingswetenskaplike, het twee kinders en woon tans in George.

EK AANBID U, HERE … Anne-Marie Roux

Gebed maak dit vir jou moontlik om deur ‘n blote fluistering in die teenwoordigheid van die Here te kan wees. Deur gebed kry ons toegang tot die troonkamer van God en word dit suiwer aanbidding.  Die woord wat vir aanbidding in Hebreeus gebruik word, is shachah – wat beteken om laag te buig soos in Ps 99:5: “Prys die Here ons God. Kom buig in aanbidding voor Hom: Hy is heilig.”  Een van die mooiste voorbeelde van aanbidding is in Openbaring 4:10 waar die engele en die ouderlinge die Een wat op die troon sit, aanbid – hulle sit dan hul krone voor die troon neer en sê: “Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang”. Die woord wat hier vir aanbid in Grieks gebruik word, is proskuneo wat beteken om ‘in iemand se rigting te soen’. Jy staan dus deur gebed in ‘n liefdesverhouding met God waar jy hom met volle hartstog en oorgawe soen en vereer deur jou woorde en liedere.

Hoe om die Here prakties in gebed te aanbid:

•   Skryf vir die Here ‘n liefdeslied en sing dit gedurende jou gebedstyd vir Hom (Ps 149:1 Sing ‘n nuwe lied tot eer van die Here).

•   Sit musiek op wanneer jy begin bid en vra die Heilige Gees om alles wat skeiding maak tussen jou en Hom weg te neem sodat jy hom suiwer in Gees kan aanbid.

•  Lees vir die Here ‘n lofpsalm (soos Ps 150) of memoriseer spesifieke lofprysingskrif wat jy vir die Here terugbid.

•   Dans voor die Here! Gaan in jou binnekamer en gee uiting aan jou liefde vir Hom deur Hom te eer met ‘n lofdans (Ps 149:3 Laat hulle sy Naam prys met koordanse)

•   Kniel en buig voor Hom – aanbid Hom (Ps 138:2 Ek wil na u heilige tempel toe buig en U Naam roem)

•    Hef jou hande na Bo en eer Hom vir wie Hy is: die Here wat die hemel en die aarde geskape het  (Ps 134:2 – Hef julle hande in gebed op na die heiligdom en prys die Here!)

•    Vra die Here om jou te leer om Hom te aanbid na Sy hart … en leer by jou Vader, wie jy behaag deur geesdeurdrenkte aanbidding.

Gebed:

Uit die diepte van my hart bring ek aan U ‘n lofoffer – mag dit opstyg voor U troon en soeter as heuning vir U wees.