{ARGIEF}

EMOSIONELE MENSE BEMEESTER STRES!

 

Voel jy ook soms jy hardloop jou dood en kry niks klaar nie?

Tussen die besoek aan jou ma in die aftreeoord, die vierjarige se kinderpartytjie wat vanjaar “star wars” moet wees (Gryp selfoon: “Vriendin wat is “star wars”?! Help!!), koek vir die basaar (Gedoriewaar dis weer plat soos laas jaar s’n!!) moet jy nog kos ook maak!! Jy bly moeg, maak lysies van wat om te doen, maar vergeet waar jy dit gesit het, begin te veel eet! Die ou mense sou sê die kind is besig om mal te word of sy is naby aan ‘n senuwee-ineenstorting! Of sommer net: Die kind ly aan haar senuwees! Foeitog!

Nee, jy is net gestres en dit eis sy tol! Jy sal jou stadig moet begin haas of anders is jy binnekort ‘n statistiek in ons land van hartprobleme of ons spit jou in! Ek wens ek kon sê dat ek net ‘n grap maak, maar die harde werklikheid is dat as ons nie aan ons stres aandag gee nie, die resultaat baie sleg kan wees! Dit foeter nie net jou gesondheid op nie, maar dit benadeel ook al jou verhoudings.

WAARSKUWINGSTEKENS

Weet jy wanneer jy gestres is? Ek weet bv dat ek gestres is wanneer ek sukkel om te glimlag of dodelik geïrriteerd is! Wat is jou waarskuwingstekens?

Sommige hiervan wat baie mense ervaar is: Verhoogde pols- of hartritme, te min/te veel slaap, gevoelens van waardeloosheid, knop in die keel, borspyne, baie hoofpyne, maagprobleme, irritasie, moegheid, bewerig, nat hande, hoë bloeddruk, naarheid, sooibrand, hardlywigheid, maagwerk. Hulle sê dat 74% van alle siektes deur stres veroorsaak word. In die VSA word dit al op 87% geskat.

Iets wat ons nie uit die oog moet verloor nie, is dat stres nie deur die situasie veroorsaak word nie, maar ons persepsie daarvan. Bv die stres word nie veroorsaak deur die feit dat die koek platgeval het nie, maar HOE ek daaroor DINK. Wat sê jy vir jouself: Hoe kan ek so stupid wees? Ander is nie so onbekwaam soos ek nie – ek is vrot. Dit is dus nie die plat koek wat die stres veroorsaak nie, maar HOE jou denke is. Dit is duidelik dat as ons ons persepsies oor dinge verander, gaan ons ook ons stres verminder. Een van die grootste geskenke wat God ons gegee het, is die geskenk van KEUSE! Jy kan in die oggend besluit of dit ‘n wonderlike dag of ‘n slegte dag gaan wees, of jy glimlag of frons, of jy stupid is as jy ‘n plat koek bak of nie …

TEGNIEKE OM stres TE HANTEER

Daaglikse druk gaan nie verminder nie. Jy moet vaardighede aanleer om ‘n gebalanseerde lewe te lei. Iemand het vir my die volgende goeie strestegnieke gegee:

  • Druk 39 klein marshmallows in jou neus op en nies dit op een slag uit;
  • Dans kaal voor jou troeteldiere;
  • Vul jou inkomstebelasting met Romeinse syfers in;
  • Stuur jou dokter ‘n rekening vir die tyd wat jy op hom moet sit en wag in die spreekkamer!

Hierdie was net vir ‘n goeie “smile” wat terloops, al ‘n goeie strestegniek is. Dus, “smile” konstant, want jou liggaam skei dan die wonderlike serotonien en endorfien af!

Die volgende is meer sinvolle tegnieke:

1. Gesonde leefstyl: Goeie ontbyt, 7-8 uur slaap, normale gewig, geen rook, fisieke oefening. Navorsing wys jy kan jou lewe verleng as jy dit doen.

2. Drink ten minste 7-8 glase water per dag. Dit verdun die bloed. Stresvolle mense se bloed is dik.

3. Gesonde eetgewoontes: Baie vis, hoender, kalkoen, min rooivleis, vyf porsies groente en vrugte per dag.

4. Oefening: Ten minste drie keer per week 30 minute op ‘n slag. ‘n Vinnige stap mag goed genoeg wees.

5. Stop jou bekommernis. Sit ‘n rekkie om jou arm en skiet jouself as jy jou bekommer oor iets of sê vir jouself STOP.

6. As jy my boek het, leef die ABCDE-tegniek.

7. Asemhaling: Vul jou longe vir ses tellings. Longe moet tot barstens toe vol wees. Hou in vir twee tellings. Blaas uit. Doen sewe keer per dag vir ten minste 1-2 minute.

8. Praat oor dinge wat jou pla met ‘n professionele persoon of iemand wat jy kan vertrou.

9. Positiewe emosies: Sit in die oggend net vir 5 minute en dink aan enigiets wat jou positief laat voel bv sonsopkoms, jou kleinkinders en lysie maak van dinge waarvoor jy dankbaar is. Jou liggaam skei dan DHEA af wat nie net alleen die streshormoon, kortisol, verminder nie, maar dit hou jou gesond, laat jou langer leef en nie gou oudword nie.

10. Meditasie.

11. Tel jou seëninge elke dag en doen goed aan ander. Dit genereer al die goeie hormone!

Kies vir jou drie tegnieke uit hierdie lys. Beoefen dit ‘n paar keer daagliks. Voor jy weet is jy nie meer stresvolle Sarie nie, maar Jubelende Juliana! Dit is regtig baie makliker as jy wat dink. Dit moet net ‘n leefwyse word!

terkte Juliana!!!