{ARGIEF}

deur Raffealla Basson
Aan die voet van die hoogste piek in Namakwaland – Rooiberg en die nuuskierige Loerkop, lê ons dorp Garies. Dis ‘n boerderygemeenskap in murg en been. Om bymekaar te wees, lê ons ver afstande af van Frummelbakkies tot Noup, Middelkraal tot Meulsteenberg en Hoedberg tot Groenrivier. Heen en weer oor die N7. Broosheid is die geboorteplek van kreatiwiteit en verandering. Hierdie waarheid het ook geboorte gegee aan die nuwe Gideon Basson gemeentesaal. Ons KAN kuier en ons KAN “uithang”.  As ons vir ons ver neersit, is ons ‘n komkyk-spul. Die mans is die brakwater in hierdie barre aarde. Die vroue is die Namakwalandse blomme en koeltebome  vir hul gesin. Die vroue van Garies se hoofbestanddeel is liefde, omgee, ‘n knippie sout en hier en daar ‘n “souttong”.
garies
Tydens die inwydingsnaweek het ons kunstenaars genooi. Daar was Sakka Stone en Jannie Uys, Arno Carstens, Amoré, Wynand en Chereé asook Klipwerf. Die klank van vriende wat mekaar raakloop en met blydskap kloester en koek was sag op die ore. Ek besef opnuut die afslaer speel ‘n reuse rol met hierdie insameling wat so ‘n tradisie is in Namakwaland. Selfs toe ‘n 1970-manelpak opgeveil is, skaterlag die skare (Die besoekertal was so 800) en DV vanaf volgende jaar sal die Klipfees jaarliks deel vorm van die gemeente en word die inskrywing voorlopig op die almanak van 2015 gemaak.
Daar was twee ander hoogtepunte ook die naweek. Die vroue het besluit om ‘n resepteboek die lig te laat sien. Die bekendstelling hiervan het elke vrou so trots op haar eie Garies Dankresep gemaak. Dit het spreekwoordelik soos soetkoek verkoop. Dis ‘n boek met 134 bladsye, bonkig en bruikbaar sou ek wou sê! Daar is nog boeke  beskikbaar ons pos dit graag vir jou.
Die Sondag was die tweede hoogtepunt. Daar was ‘n fakkelparade (ter herdenking van die 110 jaar wat die gemeente bestaan) waaraan elke wyk deelgeneem het. Die erediens was so spesiaal en besonders en ons elkeen het geweet, soos telkemale vantevore, dat Die Skepper, Onderhouer en Vader van die gemeente teenwoordig is. Die teksvers was Ps 84: 5 en 6 Dit gaan goed met mense vir wie u huis ‘n tuiste is: hulle hou nie op om U te prys nie. Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind en graag na u tempel toe gaan.
EK DANK DIE HERE VIR WAARDES, MY IDENTITEIT, MY HERKOMS, DIE KERK, GODSDIENS EN GELOOF. JESUS SE LIEFDE MAAK VAN MY IEMAND KOSBAAR.
Ons is ‘n dankbare en tevrede gemeente hier op Garies.
KONTAKBESONDERHEDE VIR RESEPTEBOEKE:
Ansie Kotze (skriba) 027 652 1068 (k) óf Raffealla Basson 027 652 1008 (h)
R100 per eksemplaar (+ posgeld)