{ARGIEF}

deur Mariette Odendaal
AnneMarie de Klerk van Malingunde, Malawi, laat weet die volgende KIX-nuus:
“Die kinders by ons KIX kleuterskool is baie spesiaal en deur God self hierheen gestuur. Hy ken hulle elkeen by die naam. Elkeen van ons kinders is vir Hom kosbaar en Hy wil hê dat Tenacio, McLoud, Loyce en ook die ander sestig kinders sy wens vir hulle lewens moet bereik. “Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors … (Jes.40:11)
kix-apr14
“Loyce maak in Julie klaar – gereed om die primêre skool, waar haar pa ‘n onderwyser is, by te woon. Haar ma gaan haar Form IV-eksamen (Graad 12) in Julie skryf. Elke oggend is ma en dogter, geklee in hul verskillende uniforms, gereed om na hul skole te  gaan  – ‘n voorbeeld van hoe hoog hulle gesin geleerdheid ag. Die kleine Loyce word die 5 km deur ‘n ‘kabaza (fiets-taxi) by die skool besorg en weer gaan haal! Haar pa vertel hoe Loyce hulle gereeld op hoogte hou van wat sy by KIX leer!
“McLoud se pa het hom twee jaar gelede kom inskryf as die eerste seuntjie van ons skool. Die 7 km na die skool is in alle omstandighede (hitte of reën) getrotseer sodat McLoud sy geleerdheid kon kry; hy ‘gradueer’ in Julie en gaan dan sy primêre skoolopleiding begin by ‘n skool naby hul dorpie.
“Natilisa, Tenacio (3 jaar) se ouma het nooit skool-opleiding as ‘n noodsaaklikheid vir haar kleinkinders beskou nie, totdat sy kerk toe begin gaan het. Dit het haar lewenstyl en houding teenoor haar jongste kleinkind, die wesie, Tenacio, heeltemal verander. Elke Maandag tot Vrydag help sy Tenacio voorberei vir skool en sorg dat hy soggens betyds daar aankom en teen 11:00 het sy die 2,5 km gestap en wag sy weer vir hom by die hek as die skool verdaag. Tenacio het na die eerste termyn die prys vir die beste Bybelstorie-verteller gewen.
“Baie dankie aan elkeen wat bydra daartoe dat kinders soos Tenacio, wie se ouma nie die nodige fondse het nie, blootgestel kan word aan die Christelike opvoeding en skoolgereedsheidsopleiding wat KIX hulle bied.”
Kontak gerus vir AnnaMarie de Klerk by annamdeklerk@gmail.com vir meer inligting.