{ARGIEF}

catherine dreyerCatherine is ’n ma van 2 jong seuns en ’n predikant by Durbanville –Bergsig NG Kerk.Sy het o.a. ’n passie vir die gebedsbediening in die gemeente.

                        “The Lord give me dream that allows me to fly, and the faith to pursue it no matter how high” leef in haar hart.

 

GESINNE WAT BID …

 

Ek lees onlangs dat daar in die laaste 50 jaar meer boeke oor die huwelik geskyf is as die vorige 2000 jaar. Statistiek sê egter ook vir ons dat daar vandag meer huweliksprobleme is as wat daar ooit was. Dit is dus nie asof daar ’n gebrek aan kennis is nie – daar is boeke, kursusse, internet…. Waarom dan die negatiewe tendens? 

Daar is die laaste 50 jaar ook meer boeke geskryf oor hoe om kinders groot te maak as nog ooit tevore. Die feite toon egter ook dat daar meer ‘probleme met kinders’ is as nog ooit te vore. Ons het die kennis, maar daar kort iets. 

Ek glo dat ons die wysheid van God nodig het om ons te help, om in te gryp, om oor te neem. Ek glo dat paartjies en gesinne sáám moet bid. Jesus sê uitdruklik in Johannes dat Hy niks sê of doen wat Hy nie eers by (sy) Vader gehoor of gesien het nie. God sê ook Hy sal vir ons wysheid gee indien ons dit van Hom vra (Exodus 31). 

Hoekom nie elkeen sommer op sy eie nie? Ek het agtergekom dat as jy saambid, wanneer jy met God praat, ontdek mense iets nuuts van mekaar. Daar is ’n stuk eerlikheid, openheid en weerloosheid wat nie normaalweg getoon word nie. Dit beteken nie dat saambid die plek moet wees waar julle mekaar aanvat/kritiseer en vir die Here vra om die ander “sy foute uit te wys nie”. 

Die een plek waar jy werklik nederig kan wees, waar jy werklik oop en eerlik kan wees, is in die teenwoordigheid van die Vader. Vra Hom om hulp en leiding. Soek saam Sy aangesig. Wees saam ‘n voorbeeld vir jou kinders deur gesprek met God. Laat hulle jou geloof beleef. Gee hulle die geleentheid om ook vrylik met God te praat. Beleef dan saam die wonder van ons Vader. 

Kom ons hou op om so gejaagd te wees. Om by die werk te kom, om vergaderings by te woon, om ons kinders nag te sê… daar is altyd tyd om eers saam stil te word voor God.

 Aksie:

  1. Bepaal ’n tyd wat almal sal pas en hou daarby. Dit is jul afpraak met God.
  2. Gee vir elkeen die geleentheid om gebedsversoeke te noem.
  3. Gee vir elkeen die geleentheid om met ons Vader te gesels. Moet dit egter nie forseer nie – soms is dit nodig om net te luister.
  4. Hou joernaal van die gebedsversoeke en merk dit af soos die gebede beantwoord word – dit versterk elkeen se geloof dramaties.