{ARGIEF}

  annelise 046 Gaan kuier gerus by www.annalisewiid.co.za

Annalise Wiid is van woorde en wysies aanmekaargeweef.

Sy skryf – stories, liedjies, rubrieke, wat vertel van God en van die lewe. En sy reis – sing-sing, die land deur – om dit met gehore te deel.

Om gereed te wees …

Is ‘n mens óóit gereed vir die dood? Of hy nou ‘n lang aanloop het met ‘n siekte, en of hy skielik kom, soos ‘n dief in die nag, is enige mens ooit gereed vir daai laaste, finale oomblik van hierwees en dan weg…? Jesus het sy dissipels voorberei – drie maal het Hy dit duidelik vir hulle gestel: 

“… dat God wil hê Hy moet na Jerusalem toe gaan. Daar moet Hy baie ly …en doodgemaak word, maar God sal Hom op die derde dag weer lewendig maak.”

Matteus 16: 21  Nuwe Lewende Vertaling

 

 Eintlik, dink ek, wou Jesus hulle in sy laaste dae nie soseer konfronteer met die vraag: “Is julle gereed vir My dood” nie – selfs nie eens met die vraag: “Is julle gereed vir julle eie sterfdag nie”.  Die vraag waarmee Hy hulle (en ons) wel los, is: Is ons gereed vir lewe? Is ons gereed vir waarlik liefhê? Is ons gereed vir die vreugde en swaarkry van Sy koninkryk? Dit was die vraag wat hy oor en oor, elke keer in ‘n ander storie toegedraai, in sy laaste dae gevra het:  Is julle gereed …?

 

“Wat sê julle hiervan?”, het Hy vir die godsdiensgeleerdes gevra. “Daar was ‘n man met twee seuns. Hy het vir die een gaan sê: ‘Seun, gaan werk vandag in die wingerd.’ ‘Ek wil nie!’ antwoord hy, maar later het hy spyt gekry en tog gegaan. Die man het toe na die ander seun toe gegaan en vir hom dieselfde gesê. Hy het geantwoord: ‘Goed, Pa,’ maar hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?”  Hulle sê: “Die eerste.”  Matteus 21: 28-31

 

 

  En toe skok Hy hulle deur te sê dat crooks en straatvroue in die koninkryk ingaan, omdat hulle God se boodskapper glo, eerder as die sogenaamde godsgeleerdes. Hy het ook vertel van die boer, wat met oestyd sy werkers stuur om sy opbrengs by sy plaasbestuurders te gaan haal. Maar die plaasbestuurders het elke keer die werkers vermoor. Heel laaste het hy sy seun gestuur, maar …

En daar was ook die storie van die koning wat vir sy seun die wonderlikste troue gereël het, en toe dit tyd word vir die party, wil die genooide gaste nie meer kom nie. En toe …

Dit was asof die stories, daai dae voor sy dood, net uit Jesus uitgeborrel het. Hy’t vertel van ‘n goeie werker, wat sy werk ordentlik gedoen het en toe sommer ‘n stewige bevordering daarvoor kry. En van tien meisies wat ‘n bruidegom inwag. Vyf van hulle was goed voorbereid vir ‘n lang wag en gereed vir die fees toe hy kom; vyf was bietjie traak-my-nie-agtig en is aan die slaap gevang…

En ook nog die storie van die ryk man wat vir ‘n lang tyd moes weggaan. Hy het al sy baie geld aan sy drie direkteure toevertrou – mooi verdeel volgens elkeen se bekwaamheid. Twee van hulle het slim te werk gegaan en hulle bedrae verdubbel. Die ander gek het nie eers sy deel probeer belê nie!

Dis asof ek in al die stories hoor eggo: Is julle gereed vir lewe? Of verspeel julle julle kanse? Maar in die laaste storie was daar selfs meer:  Hy’t vertel van die laaste oordeel – ‘n groot gebeurlikheid wat ons ons nie kan indink nie. Van hoe Hy al die mense voor hom gaan bymekaarbring – en die engele sal die getuies wees – en dan sal hy mense skei – soos ‘n mens skape en bokke in twee aparte troppe sal uitkeer. En die geringstes gaan die deurslag gee. Die geringstes, verbeel jou! Die kales en die krankes. Kinders. Vreemdes wat by ons kom skuiling soek. Húlle. En hoe ons teenoor hulle optree …

 Is jy gereed? Vir Sy soort koninkryk? Is jy gereed vir regtig lewe? Vir liefde?? En vir die geringstes???

 Die eerste lig by wakkerword

die eerste lig by wakkerword destyds as kind het my

van al die nag se vrees en toevou in myself bevry

juis daarom bid ek dat dié Morester ons ook nou

nog gedagtig aan mekaar en óóp soos kinders kry          –  fanie olivier,  die eerste lig by wakkerword