{ARGIEF}

pofadder1

deur Alida van Niekerk

Vanaand moes ek vinnig kamer toe vlug of ek het in trane uitgebars. Dis hartverskeurend om jou hartsmense so te sien. Pa se wens is so eenvoudig, maar ook nie. Hy wil nog net een keer die Boesmanland groen sien. My liewe dierbare man se gemoed is donker en sy moed min. Hy sit en raak oud voor my oë. Ag Here asb ek kom pleit tot u vir reën vir ons Boesmanland, want ek weet soos my manne lyk, lyk baie ander boere ook so. Hoe troos ek hulle, hoe bemoedig ek hulle?

Wat meer kan ek doen. Ek los elke oggend my pragtige witkopseuntjie slapend by die huis om te gaan werk, ek kom saans watter tyd eers weer by die huis en dis dan amper weer sy slaaptyd. Ek mis my manne so vreeslik baie, maar daar is nie ander plan te maak nie. Ons moet lewe en die diere moet voer kry. Here ek weet u sal reën stuur op u tyd – ek glo dit met my hele hart en wese, maar Here bring daai wete na die boere, gee hulle krag en vertroos hulle en as dit u wil is, laat pa asb sommer nog baie groenveld en nat vleie hier in die Boesmanland sien. Ek dink ma het dalk verkeerd gesê toe sy gesê het jy huil net twee keer in die Boesmanland, die slag as jy hier kom en dan weer as jy weggaan. My seerste seer is die droogte, my hart en siel huil vir ons wêreld, dier en sy boere …

pofadder2