{ARGIEF}

Hilde Liebenberg is saam met haar eggenoot, Willem Liebenberg, die afgelope 19 jaar leraarspaar van die N.G. gemeente in Bonnievale. Hulle 4 kinders is alreeds uit die huis, waarvan 2 nog op universiteit is. Hilde is baie betrokke in die gemeente en deel die roeping van haar man om vir die Here diensbaar te wees. Sy was tot onlangs die redaktrise van die Kix.Kom wat vir haar ʼn groot vreugde was. Sy hou van fietsry en doen graag kunsnaaldwerk. Bybelstudie lê baie naby aan haar hart, want vir haar is dit die mees besondere manier waarop die Here met ons praat.Van beroep is sy ʼn Junior Primêr- en Kleuterskoolonderwyseres, maar tans geniet sy dit net om ʼn tuisteskepper te wees. Haar huis, man kinders en hondjies is vir haar baie belangrik.

 

SLAAP RUSTIG!

Geloof in Jesus bring rus en vrede in ons lewe.  Die vrede wat geloof in Jesus gee, beïnvloed selfs ons manier van slaap.   Baie mense sukkel om te slaap. Wanneer hulle gaan lê, loop  hulle gedagtes met hulle en bedink hulle al hul probleme.

Slaap is, net soos eet, drink en ontspanning, noodsaaklik vir die mens.  Daarom praat die Bybel ook dikwels oor slaap.  Navorsers stem al hoe meer saam dat die gemiddelde persoon ongeveer 6 ure slaap per nag nodig het.

 Die Woord van die Here wil graag 3 belangrike riglyne (slaappatrone) vir ‘n goeie, rustige nagrus met ons deel:
1.  Gee jou bekommernisse aan die Here weg. Dan slaap jy soveel rustiger.  Bekommernis is ʼn groot slaapdief.  Die enigste  plek waar jy al jou probleme en bekommernisse wettig iemand anders sʼn kan maak, is by die Here!    Lees  Ps : 4:9 ; Mat 6:25-24

2.  Weet dat die Here jou oppas, nie net wanneer jy wakker is nie, maar ook wanneer jy slaap.  Hy sluimer nooit in nie en is wawyd wakker in Sy sorg vir jou, ook wanneer jy slaap.   Lees Ps 121:3  en Ps 3:6 

3.  As jy in die nag wakker skrik, praat eerder met die Hemelse Herder as om Sy skape te tel.  ʼn Ou boereraad vir slapeloosheid is om skape te tel – verkieslik in drieë.  Beter raad is om eerder met die Herder te praat (te bid) as jy wakker is.  Lees Ps 119:147-148

Die duiwel wil ons beroof van ʼn goeie nagrus.  Daarteenoor kyk die Here goedkeurend na ons as ons lekker slaap.  Mag jou geloof in Jesus jou lekker laat slaap.