{ARGIEF}

deur Dawfré Theron
spekboomWelgemoed Gemeente
Ons het 250 spekbome uitgedeel aan elke ma wat die oggenddiens bygewoon het.
Die boodskap vir die moeders was dat ons elke moeder ‘n geseënde Moedersdag toewens. Die teks het gekom uit Handelinge 2:14-42. Die boodskap het iets probeer deel van geestelike “wellness”/heelheid/ gesondheid. Vir ons as Christene om geestelike “wellness” te kan hê, het ons nodig om seker te maak dat die omgewing waarin ons bly ook gesond is. Daarmee resoneer die idee van ‘n spekboom, wat beskou word as die “boom van die lewe”. Spekbome is een van die plantsoorte wat die heel meeste koolstofdioksied uit die lug absorbeer. Hierdie eenvoudige plant kan ‘n baie groot verskil maak om klimaatsverandering in die wêreld te hanteer. Dit is sommer vir ons ook ‘n voorbeeld van die groot verskil wat ‘n oënskynlike nietige plant kan maak. So kan mense wat dalk gering voorkom, ook ‘n groot verskil maak in ons land. Moeder Aarde is vir ons ‘n bron van lewe, een wat sorg, een wat voed en een wat voorsien. Is jy ook iemand wat liefde is, iemand wat sorg, iemand wat voorsien? Dan is jy vir ons van onskatbare waarde. Die spekbome is in bio-afbreekbare potjies geplant en kan dus direk in die grond geplaas word – sonder om dit eers uit te plant. Die idee dat die moederplant op die kerkterrein geplant gaan word en dat elke moeder ‘n steggie van die plant by die kerk ontvang het, is vir ons ook iets besonders.
Ons het baie positiewe terugvoer ontvang. Die moeders was gaande oor die idee! Daar is wel so tong-in-die-kies verwys na die spekkies van die moeders, of die suggestie dat ons vetplante uitdeel! Die idee van ‘n “boom van die lewe” het egter hierdie grappies gou in die kiem gesmoor.