{ARGIEF}

Wat wil Jesus vir ons vroue hê? Christina Landman

Die vroue in wit en swart hou lekker kongres. Hulle sing “Ons gaan vorentoe, daar’s nie terugdraai nie”. Dis die vroue van die VGK. Watter wonderwerk is die sang nie? Hulle oefen nie eers saam nie, maar hulle sing in stemme. Hulle spreek nie eers af nie, maar daar is voorsangers en agtersangers, almal in balans.

Ons begin die kongres met ‘n preek. Dis nou my werk. Dis ‘n werk wat ‘n mens nederig hou, die geprekery, en onveilig op jou hoëhakskoene.

Die ding is nou so dat ons baie in ons gemeente praat oor hoe ‘n mens moet preek. As ek nie daar is nie, dan preek die ouderlinge. Nou die dag toe los een van die manne in die gemeente se vrou hom. En dié Sondag toe preek die ouderling oor Simson en Delila. En hy preek só dat almal in die gemeente weet hy dink die vrou wat haar man gelos het, is Delila. En dit terwyl die vrou daar in die kerk sit, so sonder ‘n kans om haarself te verweer.

Dis toe dat die gemeente voel ons moet weer ‘n slag gesels oor hoe moet ‘n mens dan preek. Ons praat baie. Uiteindelik is daar so iets soos konsensus. Ons voel die Bybel moet jou onveilig laat voel. As die een wat preek die woorde uit die Bybel haal vir die preek, is dit die Heilige Gees wat praat. Die preek is bedoel vir almal, maar as die preek jou steek, dan was dit spesiaal vir jou bedoel. Dan kan die prediker nie help dat jy gesteek voel nie.

Dis met hierdie wysheid in my kop dat ek toe nou aan die preek gaan by die vroue se kongres. Ek dog toe, elkeen moet sê hoe die Bybel met haar praat. So asof die Bybelvers bedoel is om elkeen van ons te steek, maar op ‘n goeie manier – op ‘n manier wat ons sterk en wys sal maak.

Ons preek toe oor die vrou wat haar muntstuk verloor het in Lukas 15. Hoe sy nie opgehou soek het tot sy dit gekry het nie. En nou vra ons vir onsself af: Wat wil Jesus vir ons met hierdie gelykenis sê? Wat moet ons aanhou soek en nie ophou totdat ons dit gekry het nie?

Wat wil Jesus vir ons vroue hê? Ons hoor altyd wat Jesus van ons vroue wil hê, maar hier is tog iets wat Jesus vir ons wil hê. Iets wat daar is, en wat ons net hoef te soek om dit te kry. Dit is so hier by ons, dat as dit ‘n skerpioen was, het dit ons gesteek.

Ons dink toe sommer aan tien sulke dinge wat Jesus vir ons wil hê en ons wonder nou of dit julle ook sal raak.

1. Die eerste ding wat Jesus vir ons wil hê, is dat ons sal hoop. Soos die vrou wat nie opgehou hoop het dat sy haar muntstuk weer sou kry nie. Sy het werk daarvan gemaak. Sy het nie op haar bed gaan lê en hoop die muntstuk spring op haar nie. Sy het gewerk om haar hoop waar te maak. Jesus wil hê dat ons sterk moet wees onder moeilike omstandighede. In ‘n wêreld wat bankrot is aan hoop, moet ons hoop uit niks skep.

2. Jesus wil ook hê dat ons weet dat ons waarde in sy oë het. Dis hoekom hy ‘n gewone vrou in hierdie gelykenis gebruik. Almal het waarde in sy oë.

3. Jesus wil hê dat ons moet glo dat niks vir God onmoontlik is nie. Die vrou soek haar muntstuk in haar donker huisie – eintlik ‘n onmoontlike taak. Die huisie is donker, omdat mense toe belasting betaal het op die grootte van hulle vensters. Sy is arm. Haar huisie het niks vensters nie, maar met God is niks onmoontlik nie – ook nie vir arm en gewone mense nie.

4. Jesus wil hê dat ons gelukkig moet wees en feesvier soos die vrou met haar vriendinne gemaak het toe sy haar muntstuk gekry het.

5. En toe begin ons vroue daar sommer verder as die vrou met die muntstuk te dink. En ons dink, esus wil hê dat ons wys moet wees, soos baie van die vroue in die Bybel.

6. Jesus wil hê ons moet sy dissipels wees, soos sy moeder Maria ook een van sy dissipels geword het. (Handelinge)

7. Jesus wil hê ons moet verandering bring, veral vir arm mense en mense sonder hoop, soos Dorkas gedoen het.

8. Wanneer ons vroue iets doen, dan doen ons dit met lig en skoonheid. Dis hoe Jesus dit vir ons wil hê.

9. Jesus wil van ons genesers en troosters maak. Om mekaar te genees en te vertroos – en onsself ook.

10. Jesus wil hê dat ons ‘n vol lewe moet lei en die volheid van die lewe moet smaak.

Daarvoor gee hy ons die wysheid, die hoop en die krag. En natuurlik ook die liefde. Dis tog hoe ‘n mens vorentoe gaan en nie agtertoe nie – en dis wat Jesus vir ons wil hê.