{ARGIEF}

“ Ek moet jou dringend kom sien ”, was die oproep die week. “Ek is nie meer lus om te bid nie – wat nog van Bybel te lees – Wat gaan met my aan? Ek is tog ’n kind van die Here. Ek het geestelike hulp nodig! “is die boodskap wat ek van haar kry.

Met ons afspraak luister ek baie lank en vra haar uit na haar lewe en die sisteem waarbinne sy funksioneer. Hoe langer ek na haar luister, hoe meer kom ek agter dat haar lewe so vol is dat sy nie meer plek vir enigiets anders het nie – nie haarself nie , nie vir haar passies in die lewe nie – veral nie vir gebed nie! Daarom is sy ook nie lus vir Bybel lees nie.

Ek dink haar krisis is kenmerkend van onder andere twee probleme wat baie mense oor gebed ervaar:

1. Aan die een kant sukkel mense soms om te bid omdat gebed as plig gesien word

Die lewe is so vol stress en verpligtinge dat mense nie ook nog lus het vir ’n “godsdiensplig nie. Mense ervaar dat hulle net wil wegvlug van enige plig of iets wat hulle moet doen. Die denkfout is dat ons gemeenskap met die Here nie ’n plig moet wees nie. Dit moet ’n lewenstyl wees. Dit is nie iets wat jy gou moet afhandel nie. Dit is eerder soos asemhaling – ‘n deel van ons bestaan.

Sodra jy gebed as ’n plig begin sien, skram jy daarvan weg of doen dit vinnig net om jou gewete te stil. Jy bid vinnig voor jy gaan slaap – sodat jy net nie moet skuldig voel dat jy nie gebid het nie. Of baie mense bid net “gou” voor ‘n vergadering of ’n ander geleentheid, net sodat dit darem kan troos dat jy wel gebid het! As jy jou gebedslewe so benader word dit ‘n plig en daarmee saam ’n las wat afgehandel moet word! As jy gebed of godsdiens so sien, is jy soms nie meer lus daarvoor nie en net te moeg om nog te bid ook!

Dit is daarom belangrik dat ons moet verstaan dat gebed die uiting is van die liefdesverhouding wat ons met God het. Dit is nie iets wat ons sommer net moet klaarmaak of moet afmerk dat ons dit afgehandel het nie. As jy ’n verhouding met God het, is Hy heeltyd by jou teenwoordig en lewe jy heeldag in sy teenwoordigheid – dan praat jy as’t ware elke oomblik met Hom. Gebed is dus nie ’n plig wat op ’n spesifieke tyd gedoen moet word nie, maar dit is die uitdrukking van jou lewende verhouding met die Here – waarvan jy heeltyd bewus moet wees. Natuurlik vorm dit deel van jou eie geestelike dissiplines en moet jy ook spesiale tyd maak vir gesprek met die Here, maar dan is dit steeds geen plig nie eerder ’n dankbare gesprek.

 

2. Aan die ander kant sukkel gelowiges om te bid omdat hulle nie besef : – dat dit juis gebed is wat geestelike energie gee:

“ Gebed is die asemhaling van ons geestelike lewe” Die teenpool daarvan is – as ons nie bid nie gaan ons geestelik dood. As ons nie bid nie, het ons nie energie nie , want ons het geen lewensaar nie. Natuurlik leef ons heeltyd in teenwoordigheid van die Here en natuurlik is alles wat ons doen deel van ons gebed voor die Here. Maar die Bybel is vol van voorbeelde dat ons spesiale geleentheid moet maak om stil te word voor die Here en te bid! So as ons nie bid nie (of te moeg is om te bid) kom daar nie nuwe geestelike suurstof in ons liggaam nie en versmoor ons geestelik.

Om van jou moegheid ontslae te raak moet jy dus spesifiek die teenwoordigheid van die Here opsoek!

Soms as mense nie meer geestelike energie het om aan te gaan nie, soek ons te veel ingewikkelde oplossings daarvoor. Ons moet eerder leer om mekaar te vra: Hoe lyk jou gebedslewe? Bid jy nog en hoe bid jy? Maak jy nog tyd om afgesonderd in teenwoordigheid van die Here te wees?

As jy dan nie weet wat om te bid nie – wees net stil voor die Here, niks te vra nie , niks te klae nie maar waardeer net die teenwoordigheid van die Here. Al lees jy ook net ’n Psalm vir die Here. Dit is egter belangrik om te bid. Deur gebed kry ’n gelowige nuwe geestelike energie. As jy nie bid nie, sal jou geestelike energievlakke laag bly. Lees maar gerus Ps. 13 waar die digter met moedeloosheid en moegheid voor die Here staan, maar sy gebed en pleitroep voor die Here het hom soveel geestelike energie gegee dat hy die gebed met lofprysinge eindig. Gebed is voorwaar die asemhaling van ’n kind van die Here!

As jy dus soms geestelik te moeg is om te bid: Moenie jouself in skuldgevoel dompel nie, want God is nie net by jou teenwoordig as jy jou oë toemaak en met Hom praat nie. Hy is juis by jou te midde van jou moegheid. Aan die ander kant moet jy wel moeite doen om tyd te maak om jouself af te sonder en te bid – nie omdat dit ’n plig is nie, maar omdat jy ’n diep verhouding met die Here het en in sy teenwoordigheid krag kry . Ja, deur gebed ontvang jy geestelike krag van die Here !

Quintus

Lees nog meer artikels op my blog: Gebed

(Geestelike uitputting is iets ander as depressie- hoewel dit raakpunte het , is depressie totaal iets anders- daarvoor het die Here vir ons wondelike professionele mense gegee om ons ook te help. Lees ook Frederick se blog van 8 Okt.).