{ARGIEF}

Ek hoor dikwels die die opmerking ”Die einde van die jaar is so naby en daar is so baie om nog te doen – ek weet nie of ek al my doelwitte gaan bereik nie!”

Daar is altyd doelwitte of ideale wat nie nie afgehandel kom nie en daar is nie ’n tyd wanneer ’n mens meer daarvan bewus word as aan die einde van die jaar nie.

Dalk is dit juis in die besige tyd nodig om weer na te dink oor die verband tussen

1. ons ingesteldheid teenoor dit wat ons nog nie bereik het nie, en

2. ons geestelike gewoontes en gebedslewe.

Ons vinnige lewenstyl en ongeduld maak dat ons nie altyd die spirituele ingesteld het om op God te wag nie. Om op God te wag, is ’n gebed- en spirituele lewenshouding wat ’n bepalende invloed op jou verhouding met die Here het. Daar is meer as 30 tekste in die Bybel wat hierdie lewensingesteldheid vir ons uiteensit . Ek het gevind dat in die tye wat ek die meeste met die Here oor sake worstel, die grootste geneser ’n ingesteldheid was van wag op die Here. Vir mense met ’n doelwitgedrewe lewenstempo, is dit natuurlik nie die maklikste dissipline nie, tog is dit die een lewenshouding wat ’n mens God helderder laat raaksien!

Die woord wat in die Bybel vir “verwagting” gebruik word , word ook dikwels vertaal met “vertroue”. Miskien verduidelik dit vir ons iets van die betekenis van “om op God te wag”. Ons ongeduld met die Here is heel dikwels ’n simtoom van ons gebrek aan oorgawe aan die Here.

Hoe wag ’n mens op God ?

Om Op God te wag is ’n lewenswyse wat begin met algehele oorgawe aan die Here. Ps 25:21 “ Laat onskuld en opregtheid oor my die wag hou, want op U vertrou ek”. Om alles in die hande van die Here te gee is ’n daaglikse handeling – daarom is dit ’n geloofsdissipline wat ons moet aanleer. Ons moet elke dag oefen om elke onvoltooide saak , versoek en doelwit in die hande van die Here oor te gee en Hom daarmee te vertrou. Die woord dissipline beteken dat jy dit op gereelde basis moet doen – nie om God daaraan te herinner nie , maar om jouself te herinner dat die spesifieke saak nie meer in jou hande is nie!

Wat gebeur met ’n mens wat op God wag?

Jy leer om in afhanklikheid van God te leef : Om op die Here te wag, is om te besef dat jy nie in beheer van jou bestemming is nie. Die gebedslewe van iemand wat hierdie dissipline het, verskil van iemand wat dink hy kan die Here se arm draai om aan al sy behoeftes te voldoen. Natuurlik kan ons enigiets in die Naam van die Here vra. Maar om te vra, beteken vir geen oomblik om te beveel nie. Dit is ‘n lewensuitkyk met jou oë na bo gerig en nie op jouself nie. Om te vra, is ’n aanduiding dat alles in iemand anders se hande is. As ons vir iemand moet oplaai en ons wag vir hom in die motor – kan ons soms maklik ongeduldig raak. Die rede hiervoor is omdat ons nie in beheer van die situasie is nie. Die een wat die situasie beheer, is die een vir wie ons wag, want jy kan niks doen voor hy nie kom nie. Dieselfde met ons gebedslewe. As jy geleer het om iets in die hande van die Here te vertrou mag jy nie die een wees wat ongeduldig is nie – of selfs eise aan die Here stel nie – Jy moet leer om op God te wag – en om in afhanklikheid van die Here te leef!

Daar vind ware geestelike verandering plaas indien jy op die Here wag. As jy op Hom wag, gebeur daar iets met jou. Dit is gewoonlik die enigste tye wat ons iets van onsself en van die lewe leer – as dinge nie vinnig gebeur nie. As ’n kind vir sy ouers iets vra en hy kry dit maklik, leer hy mos niks! Dit is eers as hy leer om te werk vir iets of dat dinge nie maklik of vinnig kom nie, dat hy iets leer. So is dit maar met ons ook as ons op die Here wag. Dit is die tyd in ons lewens wanneer die Heilige Gees ons die meeste verander!

Jy leer om nuut te kyk: As Habakuk op die Here wag , gaan lê hy nie op sy bed en slaap nie . Hy klim na die uitkyktoring en soek die antwoord. Om op die Here te wag beteken om met verwagting te wag. In die proses leer jy om met nuwe oë na die lewe te kyk. Jy soek as’t ware ’n antwoord op jou gebede. As jy nie ’n antwoord verwag en uitkyk daarvoor nie, sien jy soms nie die Here se antwoord raak nie. In die proses van soek en verwagting, leer die Here jou om ander en nuwe dinge raak te sien!

Jy leer geloofsvolharding : Onthou die Here gebruik die “wagtye” om ons geloof te toets en ons vertroue in Hom te versterk. In wagtye, kry jou gebed ook meer krag , jou geloof meer spiere en jou hart word ruimer om na God te luister! Om te Wag is die tye waar jou geloofsvolharding getoets en getemper word word. Om te wag beteken om aan te hou glo en nie kleingelowig te raak oor die geringste negatiewe seine wat jy raaksien nie. Om op die Here te wag , is om in geloof te volhard!

Luk 2:25 vertel van Simeon wat met verwagting uitgesien het na die koms van die Verlosser. “Daar het destyds ‘n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon…”

Mag jy die spirituele lewensgewoonte van “Om op God te Wag” ’n geestelike dissipline maak.

Quintus