{ARGIEF}

Dit is Yancey wat ons aandag daarop vestig dat uit Jesus se meer as dertig jaar op aarde, dit net by drie  geleenthede is, dat Jesus bonatuurlike bemoediging ontvang het. Die res van die tyd het Jesus vir geestelike versterking staatgemaak op dieselfde hulpmiddel as ons, naamlik gebed. Jesus het gebed beskou as die bron van krag. As jy dus ooit gewonder het of gebed belangrik is, bestudeer die gebedslewe van Jesus.

Jesus het die  boodskap van Joh. 5:19 en 30 uitgeleef “ .. Die Seun kan niks uit sy eie doen nie…”

Hy het altyd met enige besluit eers tot sy Vader gebid. Die aand voor sy roeping van die twaalf dissipels, bring Hy ʼn hele nag in gebed deur (Luk 6:12,13). Dit laat my wonder oor hoe ons soms leiers in die gemeente aanwys. Jesus het voor al die belangrike momente in sy loopbaan eers gebid. By sy toetrede tot die openbare bediening, voor die aanwysing van die dissipels, voor verheerliking op die berg, voor die kruisiging ens.
Wat my veral opval in die gebedslewe van Jesus, is sy nagtelike gebede. Na Jesus se vol en uitputtende openbare optrede en die skares wat soveel eise aan Hom gestel het, het Hy hom gewoonlik in afsondering onttrek om te bid. Hy het tyd gemaak vir gebed  – al was dit in die nagte!

Here leer my om te bid !!!