{ARGIEF}

Op ’n keer vertel iemand  my dat hy ’n kind van die Here is en dat hy graag wil bid, maar dis asof iets hom  keer op keer verhinder. Dit voel soms vir hom asof hy net nie beheer daaroor het nie! As dit nie die telefoon is nie, is dit sy lewenstyl. Hy sukkel regtig om rustig te word en te bid!

As mense sukkel om te bid,  is dit soms goed om na te dink wat hulle keer om te bid- of liewer wat  hulle gebedslewe bedreig. Ek noem ’n paar sulke bedreigings:

1. Eie ontvlugting: Soms sorg mense self dat hulle so besig is sodat hulle nie kan bid nie. Hulle ontvlug as’t ware die alleentyd saam met die Here en sorg dat hulle program van so ’n aard is dat hulle darem ’n menslik geldige verskoning het om nie stil te word voor die Here. Om dit anders te stel: Hulle vermy dit om te bid! Hiervoor kan daar baie redes wees. Daar kan iets wees wat jy vir die Here probeer wegsteek (al weet jy, jy kannie!) Daar is baie keer ook ’n soort skuldgevoel omdat jy nie meer weet wat om te bid nie. ’n Ander  rede hiervoor kan  jou eie sonde of verkeerde lewenstyl wees. Indien jy die bedreiging in jou gebedslewe herken, is dit noodsaaklik om weer ’n rein hart voor die Here te kry (Mat 5:8).

2.Persoonlike krissise kan keer dat jy bid. Die ironie is dat jy juis geestelike energie deur gebed ontvang, maar as ’n mens neerslagtig is, voel dit soms asof gebed nie gaan help nie. So kan die ekonomiese krisis of ander slegte sake wat jy ervaar alles meewerk dat jy minder bid! Onthou, die Here wil deur gebed vir jou sy liefde toon! Moenie daarmee ophou as jy verlate voel nie!

3. Besige Program: Die bekendste bedreiging waarvan ons almal bewus is, is natuurlik ons besige program, waaroor baie mense nie regtig beheer het nie. Ons sou seker baie kan rassionaliseer oor hoekom ons so besig is, maar dit neem nog nie die feit weg dat ons sukkel om by alles uit te kom nie. Om vir iemand, wat nie sy eie baas is nie te verwag dat hy nie so hard moet werk nie, is net om onbillike gewetensdruk op hom te plaas. Die realiteit is dat mense eenvoudig besig is en dat werkgewers baie druk op werknemers  plaas. Hulle werksomstandighede tap eenvoudig hulle energie! Die oplossing is om tyd te “skep” . Om stil tye in jou besige program te skep – soms is dit vyf minute as ander gaan tee drink. Ander keer kan dit die halfuur wees waar die res van die gesin sepies kyk. Maar onthou, al is jy nie in beheer van jou dag se program nie, is jy steeds in beheer van jou aftye tussenin.  Gebruik dit wys!

4.Twyfel is een van daardie sake wat ons geestelike lewe en veral ons gebedslewe kan inhaal. As jy twyfel, dan sukkel jy om te glo en hoe kan ’n mens bid sonder geloof? Die eerste  wat iemand wat twyfel(in die Here of  in sy eie geloof), doen, is dat hulle ophou bid. Die oplossing hiervoor is om werklik weer eerlik na die Here te gaan en jou twyfel vir Hom te gee. Twyfel kan jou gebedslewe vernietig.

5.Tye sonder medegelowiges is nooit goed vir ’n  mens se gebedslewe nie. Ons is vir mekaar gemaak. Dit geld ook vir ons gebedslewe!  Dit gebeur so dikwels met mense dat hulle hul oor een of ander rede van die gemeente (kerk) of ander gelowiges onttrek. Ongelukkig oorleef hulle gebedslewe dit ook nie. ’n Kragtige gebedslewe en goeie geloofsinteraksie met medegelowiges gaan gewoonlik hand aan hand!

6.As jou verhouding met die Here seergekry het. Gebed se basis word deur jou  verhouding met God gevoed en gestut!  Indien jy om een of ander rede afgedwaal of afvallig geraak het en die verhouding tussen jou en God seergekry het, sal jy ook nie meer kan bid nie. Weet dat die Here se genade en liefde groot is om jou vas te hou. Weet dat sy arms sterk genoeg is om jou van sy liefde te verseker en soos die verlore seun weer terug te bring! Hy sal nooit sy rug op jou keer nie, maar nooi jou eerder uit om na Hom te kom!

Soos ’n goeie huweliksverhouding moet die bedreigings in die verhouding geidentifiseer word en aandag kry, anders  gaan die verhouding baie seerkry ! Mag die Here se liefde en genade julle dring dat jy ‘n ryk gebedslewe het, te midde van al die bedreigings!!

Quintus