{ARGIEF}

Die Heilige Gees in ons tyd (VBO-13)

Laai Registrasievorm hier af

Aanbiders:          Dirkie Smit en Coenie Burger
Datum:               11–13 Sept
Plek:                   Stellenbosch
Koste:                 Sien registrsievorm

Daar sal gekyk word na die volgende vier fases:
1. Inleidend: oor die belangrikheid van die Gees en sy werk (kort)
2. Die klassieke belydenis oor die Gees (bv Nicea)
3. Nuwe gesprekke oor die Gees
4. Implikasies vir die kerk, gemeentes en die bediening?

In “Wat Here is en lewend maak”, Dirkie Smit se boekie met preke oor die derde artikel in die Geloofsbelydenis van Nicea, word op oorsigtelike en baie eenvoudige wyse ‘n inleidende oorsig gebied oor die klassieke temas wat ter sprake kom in die pneumatologie. Calvyn staan in die geskiedenis bekend as “die teoloog van die Heilige Gees”.

Van die mees leersame pneumatologieë van die afgelope vyftig jaar is dan ook deur Gereformeerde denkers geskryf, waaronder die bydraes van Berkhof, Jonker, Welker en Van de Beek almal tel. In sy Warfield Lectures van 1964 by Princeton Theological Seminary, gepubliseer as The Doctrine of the Holy Spirit (1964; vertaal as De Leer van die Heilige Geest, 1965) het Berkhof op opspraakwekkende wyse die volgorde van bespreking van die klassieke temas omgedraai en (in die gees van dié tyd, net na Barth en Newbigin se Trinitariese bydraes en hulle siening van die sogenaamde missio Dei) éérs die Gees en die sending behandel, voor hy die Gees en die kerk en daarna die Gees en die enkeling aan die orde gestel het.

In Die Gees van Christus (1981) gee Jonker ‘n baie goeie oorsig van dogma historiese ontwikkelinge en bied daarna ‘n klassieke Protestantse bespreking van die persoon en werk van die Heilige Gees, met klem op die uitstekende verduideliking van die werk van die Gees in die verlossing van die individu (deur geloof, regverdiging en heiliging). In sy hoogs oorspronklike Gottes Geist (1992; vertaal as God the Spirit, 1994) argumenteer Welker dat ons normaalweg, maar ten onregte, die Gees assosieer met wat ons nié begryp nie, terwyl die Bybel eintlik vir ons ‘n baie duidelik prentjie teken van wie die Gees is en wat die Gees doen – wat hy dan self probeer aantoon in ‘n sogenaamd bybels-realistiese benadering waarvolgens hy die Bybelse gegewens van die begin na die einde toe deurwerk en bedink.

Bram van de Beek, as leidende Nederlandse teoloog van die afgelope dekade, is baie interessant, omdat hy sy sieninge rondom die Heilige Gees so radikaal verander. Hy skryf ‘n vroeë werk oor die pneumatologie, De Adem van God (1987), wat die klassieke temas op gebruiklike wyse aan die orde stel. In sy onlangse God doet Recht (2008) aanvanklik gekonsipieer as pneumatologie, trek hy egter grootliks terug wat hy voorheen gedoen het omdat hy dit nou as veels te optimisties beskou en ontwikkel hy ‘n pneumatologie van die kruis.

Afhangend van die beskikbare tyd en die belangstellings in die groep, sal sommige van hierdie werke tydens die kursus bespreek word waarskynlik ten minste Welker en Van de Beek.