{ARGIEF}

Predikantwees met Integriteit en Vrymoedigheid

Wat preek Hebreërs vir predikante?

[VBO 10]

Kontak Chrisna van der Merwe by: 021-808 3624 / cmer@sun.ac.za

Laai inskrywingsvorm hier af

Sluitingsdatum vir inskrywings; 30 Maart 2011

Aanbieders:    Andries Cilliers
Datum:    12–14 April 2011
Plek:    Stellenbosch
Koste:
R130 vir NGK & VGK predikante van Wes- en Suid-Kaap
R630 vir predikante buite Wes- en Suid-Kaap
R600 ander belangstellendes

Ons gaan saamgesels oor predikant-wees aan die hand van die Hebreërbrief. Die aanbieding sal jou geleentheid gee om opnuut kennis te maak met hierdie opwindende brief – en ook om te gesels oor predikantwees en wat dit aan ons doen.

Hebreërs is geskryf vir Christene wat moeg geraak het vir die geloofslewe, mense wat uitgesak het omdat die navolging van Christus te veel van hulle gevra het en dalk, vir hulle gevoel, te min gebied het om vir die swaarkry te vergoed. Die brief wil hulle troos en kortvat en aanspoor om getrou te bly aan Christus.
In die lig hiervan gaan ons gesels oor die vraag: “Wat maak ons – en ons gemeentes – moeg?” Ons gaan kyk na moontlike redes vir moegheid: die probleem van fragmentasie (daardie “ek val uitmekaar”-gevoel); skynheiligheid (die werklikheid dat “predikant-wees” ‘n rol kan word wat jy speel waarin jy eerlik kan wees oor wat regtig in jou lewe aan die gang is nie); suksesresepte (daardie lam gevoel wat jy kry wanneer nóg ‘n eenvoudige resep vir suksesvolle predikantwees aan jou opgedis word…) en die hele kwessie van die predikant se posisie in die samelewing (wat al lank nie meer ‘n ereplek is nie!).

Die kursus bied dus ruimte vir openhartige saamgesels, maar dit wil nie bly vassteek in probleme nie. Ons gaan ook kyk na die perspektiewe wat die Hebreërbrief vir ons oopmaak: hoe fragmentasie teengewerk word deur geloofsintegrasie, wat voortvloei uit die fokus op Jesus Christus; hoe die genade in Christus ruimte skep vir vrymoedigheid en ons só bevry van ‘n skynheilige rollespel; hoe die avontuur van ‘n soekende (en soms ook sukkelende) geloof jou red van oppervlakkige suksesreseppies; en hoe ons vry word van kommer oor ons posisie juis wanneer ons ontdek waar ons eintlik behoort te wees: buitekant die laer saam met Christus.

Die kursus is so saamgestel dat dit goeie geleentheid vir gesprek kombineer met ‘n ernstige omgang met die Hebreërbrief. Dit is reeds “getoets” in ‘n aanbieding vir die predikante van die Oostelike Sinode.