{ARGIEF}

Theodisee

[VBO 17]

Kontak Chrisna van der Merwe by: 021-808 3624 / cmer@sun.ac.za

Laai inskrywingsvorm hier af

Aanbieders:    Tallie van den Heever, Gerrit Brand & Andries Cilliers
Datum:    18 – 20 Oktober 2011
Plek:    Stellenbosch

Tema en doel
Nagedink oor lyding, skuld, sin, geloof en God

Tillich praat in sy The Courage to be van drie tipes angs: ontiese angs (vir noodlot en dood), wat oorheers het aan die einde van die antieke beskawing; morele angs (skuld en veroordeling), wat veral die einde van die middeleeue gekenmerk het, en spirituele angs (vir leegheid en sinloosheid) wat tans, aan die einde van die moderne periode, dominant is (hoewel die ander steeds teenwoordig is). Mense se belewing van angs noodsaak ’n egte gesprek waarin nie fundamentalisties met die Bybel omgegaan word om simplistiese “oplossings” te bied nie, maar waarin mense leer om te luister na hoe verskillende tekste met mekaar en met ons praat.
Vir baie mense word die vrae oor God se onderhouding van en regering oor die skepping ook moeiliker gemaak deur die volgehoue debatte oor skepping en evolusie. ’n Voorbeeld hiervan is die groot debat op lit-net vanaf 2002 wat in Die omstrede God in 2004 geboekstaaf is.
Boonop belewe indiwidue daagliks dinge wat die angs van sinloosheid wawyd-wakker hou. Thielicke skryf in die naloop van die Tweede Wêreldoorlog in Duitsland dat die dissipels nie van Golgota af wegvlug vanweë lafhartigheid nie, maar vanweë vertwyfeling. Dit was nie die dreiging van lyding nie, maar die krag van die sinloosheid van lyding wat hulle laat vlug het.
Het lyding hoegenaamd sin? Of is dit moontlik om sin te gee aan lyding, of dat lyding tog uiteindelik aan sin kan wen? Ons wil hierdie ou gesprek met mekaar voortsit op ’n manier wat relevant sal wees vir die gesprekke waarmee jy in die gemeente te doen kry.

Inhoud
Tydens die kursus gaan ons:
saam gesels oor verskillende vorme van lyding en die vrae wat dit by mense oproep;

  • tekste uit die Ou en Nuwe Testamente saam lees sodat dié tekste met mekaar en met ons in gesprek gebring kan word;
  • tekste uit die gereformeerde tradisie (die belydenisskrifte en onder andere Calvyn) by die gesprek betrek;
  • ook kyk na tekste uit ander godsdienstige tradisies;
  • kyk na verskillende denkmodelle oor die teodisee-vraag uit ons tradisie en uit die hedendaagse teologie.

Dit sal elke deelnemer help om ’n eie posisie binne die gesprek te bepaal, sodat ons saam kan besin oor hoe ons pastorale gesprekke met sinsoekende, lydende mense kan hanteer.

Oogmerke
Ons wil mekaar help om mense wat met die vraag na lyding, sin en geloof in God worstel, te help om:

  • sinvol met die Skrif en geloofstradisie om te gaan en nie terug te val op die maklike “antwoorde” wat dikwels gegee word met ’n fundamentalistiese Skrifgebruik van enkele dooddoener-tekste nie;
  • nie pynlike gesprekke te vermy uit die gevoel dat daar geen sinvolle gesprek moontlik is nie en geen hoopvolle perspektiewe ontdek kan word nie;
  • maar om egte, sinsoekende gesprekke na te streef, onder meer ook deur insig te kry in jou eie denke oor hierdie vraag.